Editor's choiceLocal newsNews

Skokfoto’s onthul: selfone dra by tot skoolgeweld

‘n Video beeld ‘n bakleiery tussen twee leerlinge van Hoërskool Bastion uit nadat ‘n geheim deur BBM uitgelap is.

Die Gautengse Onderwysdepartement het ‘n onafhanklike ondersoek van stapel gestuur nadat ‘n video wat geweld tussen leerlinge by Hoërskool Bastion uitbeeld, na bewering soos ‘n veldbrand deur die internet versprei is.

n Graad 9-leerling gryp 'n mede leerling aan die nek oomblikke nadat die klok aan die einde van tweede pouse gelui het.
‘n Graad 9-leerling gryp ‘n mede leerling aan die nek oomblikke nadat die klok aan die einde van tweede pouse gelui het.

Dié video, waarvan die NUUS ‘n kopie het, wys hoe twee dogters direk na tweede pouse in ‘n bakleiery betrokke raak.

Dit blyk of dit ‘n beplande aanval was aangesien die leerling wat die video-opname gemaak het, reeds reg gestaan het om die bakleiery af te neem toe een leerling ‘n ander een gryp, teen die muur vasgooi en vir haar in vulgêre taal sê dat sy haar gaan doodmaak.

In die videomateriaal word daar gesien hoe die Graad 9-leerling die ander leerling teen die kop en rug met 'n vuishou slaan, haar teen die nek gryp en teen die muur gooi.
In die videomateriaal word daar gesien hoe die Graad 9-leerling die ander leerling teen die kop en rug met ‘n vuishou slaan, haar teen die nek gryp en teen die muur gooi.

Intussen word die leerling ook aan die nek gegryp en ‘n vuishou agter haar kop en op haar rug toegedien terwyl die ander leerling aanhoudend vra dat sy uitgelos moet word.

Tola Bester (44), die ouer van die Graad 9-leerling Chané wat aangeval is, voel dat hierdie tipe gedrag nie in skole geduld behoort te word nie.

Sy het aanvanklik gedink dat dit nie so erg is nie, totdat sy die video deur WhatsApp op haar selfoon ontvang het.

“My dogter voel nou vernederd omdat almal (leerlinge) wat die video op hulle selfone ontvang het, vir haar lag .”

In die videomateriaal word daar gesien hoe die Graad 9-leerling die ander leerling teen die kop en rug met 'n vuishou slaan, haar teen die nek gryp en teen die muur gooi.
In die videomateriaal word daar gesien hoe die Graad 9-leerling die ander leerling teen die kop en rug met ‘n vuishou slaan, haar teen die nek gryp en teen die muur gooi.

Nog ‘n ouer, Linda Bosch (38) vertel hoe haar dogter Marisca verbaal aangerand en selfs met skryfbehoeftes gegooi is in ‘n voorval wat vermoedelik met die bakleiery verband hou.

Tydens gesprekke met die twee leerlinge het dit aan die lig gekom dat die bakleiery die gevolg was nadat ‘n geheim deur BlackBerry Messenger (BBM) uitgelap is, en bewyse hiervan is ook aan die NUUS gestuur.

Die ouers het hulle kinders ‘n week lank uit die skool gehou omdat hulle vir hulle kinders se veiligheid gevrees het, maar die Onderwysdepartement het daarop gewys dat dit onwettig is en dat die leerlinge se reg om onderrig te kry nie daaronder mag ly nie.

Die ouers van die twee dogters voel dat ander ouers meer aandag aan hulle kinders moet gee en begin oplet wat op hulle selfone aangaan omdat dit maklik vir afknouery gebruik kan word, wat weer tot fisiese geweld of self tot selfmoord kan lei.

Minnette Janse van Rensburg, ‘n kliniese sielkundige van Krugersdorp sê selfone is wonderlike goed maar dit het ook ‘n bose kant. Ouers moet hulle kinders leer om dit vir die regte redes te gebruik.

“Ons kinders word blootgestel aan dinge waarteen ons hulle nie altyd kan beskerm nie. Dit bring my by die gedagte van kinders wat afknou en natuurlik ook die slagoffers van afknouers.”

Sy noem dat leerlinge wat afgeknou word hulle ouers, onderwysers of selfs die polisie moet inlig sodat die saak aandag kan kry.

Verder noem sy ook dat leerlinge nie aggressie of geweld moet aanblaas nie.

Gershwin Chuenyane, woordvoerder van die Gautengse Onderwysdepartement sê ‘n span beamptes is na die skool gestuur om die beheerliggaam by te staan met die kwessies rondom tugstappe.

Die Departement gaan ook berading aan die leerling verskaf.

“Ons veroordeel enige vorm van geweld insluitend boelie, fisiese en seksuele aanranding en lyfstraf in ons skole ten sterkste en besef ook dat die departement ‘n verantwoordelikheid het om voortdurend ‘n omgewing te skep waarin ons leerlinge, opvoeders en skoolhoofde veilig voel.”

As deel van die Departement se ingrypingspogings is ‘n Vyfjaar Skoleveiligheidsplan saamgestel wat as riglyn vir skole en departementele amptenare sal dien.

Related Articles

3 Comments

  1. Hel mense dit is pateties.Jul is in n skool nie n bokskruit nie.Nou vra ek myself waar is die personeel of leiers wat moet kyk dat die sirkus nie in skole plaasvind nie.Die wat so hand gemeen raak is beslis nie n HERO nie maar wel die grootste nar in die sirkus.Weereens kan n mens sien hoe word ons skole se name in die modder gesleep SIES MAN

  2. Swak, pateties, …. Wat het geword van orde en teenkanting teen boelies in skole. Sulke gedrag hoort nie geduld te word in ons skool nie. Sal graag wil hoor wat die eind resultaat is, aangesien dit in skooltyd op skoolgrond gebeur het. Oor ‘n jaar of wat moet my dogter wat goed op akademies en sport gebied vaar, hoërskool toe gaan. Laat mens wonder watter skool sal teen dan voldoen aan standarde.

    Bekommerde Ouer

  3. Met alle respek teen die onderwysdepartement-ek verstaan die reg tot onderrig, maar dis my kind en as ek voel sy/haar lewe is in gevaar sal ek als doen om hom/haar te beskerm. Ten koste van enige iets, want dit lyk my as ons as ouers dit nie doen nie, gaan skole dit nie doen nie. Soos die betrokke ouer vra, waar is die personeel of leiers. Persoonlik weet ek dat die meeste van die kameras so jaar terug nie gewerk het nie. Wonder of dit nou al werk??? Oor 3-jaar moet my oudste hoërskool toe gaan…..wonder of my kind se belange op die hart gedra sal word? Is die vyfjaar skoleveiligheidsplan nie dalk bietjie lank geskat nie? Tree nou op!!! PS: Girls gaan nie so aan nie! So sad, die wat dit moet lees, lees dit nie!

Check Also
Close
Back to top button