Havies samel R13 850 vir Kansa in

Dr Havinga maak dit duidelik dat hul Kansa aanneem.

Laerskool Dr Havinga het groot gegaan wat liefdadigheid aanbetref deur onlangs byna R14 000 vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) in te samel.

Dit nadat leerlinge en onderwysers op Vrydag 25 Oktober ‘n walk-a-thon op die skoolgronde gehou het met die doel om geld vir Kansa in te samel. Die skool het bevestig dat ‘n bedrag van R13 850 vir Kansa op die dag ingesamel is en almal se verwagtinge oortref het.

Volgens Lizelle Kies van die skool, “Het Havies besluit om vanaf 2012 vir Kansa aan te neem as ons liefdadigheidsorganisasie. Hierdie jaar het ons besluit om ‘n walk-a-thon te hou. Al die geld wat ingesamel is word aan Kansa geskenk. Ons het van die begin af die projek as ‘Havies maak hul hart oop’ gedoop.

“Op die dag het elke graad ‘n verskillende kleur bandana gekry. Die kleure verteenwoordig verskillende soorte kankers.

“Die Graad R’e en 4s was oranje – wat leukemia voorstel; Graad 1s rooi – velkanker – die graad 2s en 5s geel – kinderkanker – die graad 3s en 7s pienk – borskanker – en die graad 6’e blou – vir kolonkanker.

“Dan het die graad R-leerlinge – wie almal met hul skopfietse die roete voltooi het – die wat die geveg teen kanker gewen en oorleef het voorgestel.

“Elke graad het dan verder meer geleer oor hulle soort kanker op die dag. Daar was ook werksopdragte vir elke graad”.

Dr Havinga se twee kanker oorlewendes, Ansie van Dyk – admin personeellid – en Jayden Scholtz in Graad 3 wie tans in remissie van leukemie is – ook gestap. Zandri Schickerling van KANSA het ook die dag bygewoon.

Lizelle het bygevoeg, “Vir my was dit belangrik dat die leerlinge geleer het om om te gee en te gee vir mense wat nie so gelukkig soos hulle is nie en om bewusmaking te bevorder. Natuurlik ook om Kansa te kon help”.

Die hele skool het na hul stap om die veld en skoolgronde bymekaargekom vir ‘n kiekie waar leerlinge een groot hart gevorm het.

Exit mobile version