NewsSchools

Roodekrans-hoof tree na 33 jaar af

"Daar is baie dinge wat vir altyd by my sal bly."

Hy het talle beroepe van die hand gewys en onderwys gekies want dit bly maar sy grootste liefde.

Leerlinge en ouers, haal maar julle sneesdoekies uit want Jan Meyer, geliefde hoof van Laerskool Roodekrans tree af. Van 1 Januarie 2014 af sal hy nie meer op die skoolterrein gesien word nie.

Jan se onderwysloopbaan het in 1973 by Laerskool Fairland begin, waar hy vir vier jaar lank betrokke was. Daarna sluit hy hom by Laerskool Horison vir minstens drie en ‘n half jaar aan.

Hy sit toe op 1 April 1980 sy voete vir die eerste keer op Roodekrans se skoolterrein. Vier jaar later, op 13 September 1984 het hy by die skool as hoof waargeneem na die skielike dood van die skoolhoof, Basil Rentzke weens ‘n hartaanval. Op 1 April 1985 word hy amptelik as hoof van die skool aangestel.

Die Record het toe die hartseer oomblik en geleentheid aangegryp om met Jan oor sy loopbaan by Laerskool Roodekrans (Roodies) te gesels.

“Onderwys was vir my ‘n bakgat loopbaan. Ek het baie ander geleenthede gehad, maar daar was vir my net een – onderwys,” het hy met trots in sy stem gesê.

“Dit was vir my die wonderlikste ervaring om saam met die bestuurspan, personeel, ouers en leerlinge ‘n paadjie te kon stap. In die tydperk wat ek hier was, het ek gesien hoe leerlinge presteer en ontwikkel, en baie dinge het gebeur wat vir altyd by my sal bly.

“As ek so ver terugdink as 1980, kan ek nie anders nie as om hulde te bring aan mnr Basil Rentzke wat die grondlegger en eerste hoof van ons skool was toe dit op 1 Mei 1979 geopen is. Die eerste sin deur ds Gideon du Plessis, eerste voorsitter van die beheerliggaam, in ons skooljoernaal kom uit Nehemia 2 vers 18: ‘Ons sal ons klaarmaak en bou’.

“Hoe lekker was dit nie vir my deur die jare om op ons verhoog te staan en af te kyk na sulke pragtige, netjiese, vriendelike en goedversorgde kinders nie; die satisfaksie wat dit vir my gebring het as ons kinders op akademiese, sport en kultuurgebied prestasies van hoogstaande gehalte gelewer het.”

Gevra wat hy die meeste gaan mis, het Jan gesê, “Beslis die samesyn tussen personeel, leerlinge en ouers; die prysuitdelingsaande waar ek elke kind ‘n handdruk kon gee; die spontane drukkies wat ek tydig en ontydig van kinders op die stoepe en oraloor gekry het; oudleerlinge wat ek na jare weer raakloop om dan te verneem van die wonderlike prestasies wat hulle bereik het”.

Jan het toe gegroet met die volgende woorde:

“Wat ‘n voorreg was dit nie om saam met entoesiastiese, toegewyde onderwysers te kon werk nie. Deur die jare kon ek waarneem hoe ons onderwysers die snoeiskêr inlê sodat ons kinders kon blom om later in die samelewing vrugte te kon dra.

“Wat ‘n geleentheid het ek nie gehad om deur die jare ‘n wonderlike ouergemeenskap te kon dien nie – ouers wat intense belangstelling in hul kinders en skool getoon het; ouers met wie ek altyd opreg en openhartig oor hul kinders kon gesels.

“As ek my jare by ons skool vergelyk met ‘n reis, met alle bouers van ons skool as medereisigers, dan kan ‘n mens nie anders nie as om ons Hemelse Vader te dank vir Sy leiding en hand van bewaring wat Hy oor ons skool gehou het, sodat ons deurentyd ons bestemmings veilig kon bereik.

“My beste wense vergesel die personeel, ouers en kinders van hierdie besonderse skool – Roodekrans”.

 

Leerlinge luister as Jan praat.
Leerlinge luister as Jan praat.
Jan Meyer, hoof van Laerskool Roodekrans wat na 33 jaar sal aftree.
Jan Meyer, hoof van Laerskool Roodekrans wat na 33 jaar sal aftree.
Jan by 'n paar Roodie-skaakspelers.
Jan by ‘n paar Roodie-skaakspelers.
Jan toe hy by die skool begin het.
Jan toe hy by die skool begin het.
Jan en 'n Roodie-leerling tydens 'n sportgeleentheid.
Jan en ‘n Roodie-leerling tydens ‘n sportgeleentheid.

Related Articles

Back to top button