Siembamba hou groot makietie vir hoof

Verrassingspartytjie slaan hoof se asem weg.

Die eienaar, hoof en Graad R-onderwyser van Siembamba Kleuterskool, Marietjie Janse van Vuuren is onlangs met ‘n verrassingspartytjie bederf deur leerlinge en onderwysers.

Siembamba Kleuterskool is ‘n Afrikaanse-Christelike plaasskool wat sedert 2001 bestaan. Daar is 108 leerlinge in die skool, ses onderwysers en nege assistente.

‘n Onderwyser van die kleuterskool, Tharien Joubert sê, “‘n Mens is nooit te oud om partytjie te hou nie. Ons het vir die leerlinge gesê om glad nie aan Marietjie te noem dat ons ‘n verrassingpartytjie vir haar beplan nie. Maar jy weet mos, die opgewondenheid was te groot vir die kleintjies en die Graad R’e het haar daarvan vertel.

“Dit was te oulik, en ek onthou nog een van hulle se woorde aan ons hoof: ‘Ons kan nie meer wag vir juffrou se verjaarsdagpartytjie nie. Ons gaan springkasteel spring en in die klein swembad swem en juffrou gaan in die groot swembad swem. Maar ons mag niks sê nie, dit is ‘n surprise.'”

Toe die partytjie op Vrydag 20 September aanbreek het almal met ‘n huppel in hul stap by die skool aangekom met ballone wat oral hang en lekkers en aartappelskyfies op die tafels.

Tharien het bygevoeg, “Almal het dit so geniet. Marietjie was so verras gewees met die aantal geskenke en mooi versierings. Die twee springkastele was die heeltyd vol met leerlinge en die waterwurm het ook almal se aandag getrek.”

Siembamba Kleuterskool wil graag dankie sê aan ouers, Signs and Printing, Hollywood Costumes, Boomhuisie, Westgate Slaghuis, Pick n Pay Witpoortjie, Koek ‘n Loer, West Rand Pack, Jump for fun, Relestie Photography en West Rand Jumping Castles vir hul bydrae tot ‘n lekker partytjie.

Exit mobile version