Annatjie Nel se stryd na die kaping

Gekaapte Annatjie Nel bedank inwoners, vertel van probleme met versekering.

Annatjie Nel, wat op Maandag 9 September voor haar huis in Roodekrans gekaap is, het vir die Record van die angs, spanning en uiteindelike verligting vertel wat sy ondervind het.

Annatjie was nog besig om oor die selfoon met haar man Jacques Nel gesels, wat as ‘n operasionele bestuurder permanent in Zimbabwe gebaseer is, toe ‘n pistool op haar gerig word.

Sy is in ‘n wit driereeks-BMW gedwing en moes op die agterste sitplek haar oë toeknyp om nie moed te verloor nie.

Vir meer as twee ure is daar met haar rondgery terwyl die verdagtes gesukkel het om haar Land Rover se opsporingstelsel te deaktiveer.

Ná ‘n gereelde verwisseling van bestuurders en passassiers is sy uiteindelik in Dube, Soweto afgelaai waar sy by ‘n familie om hulp aangeklop het.

“Ek het Maandag twee keer per selfoon met Jacques gesels, wat ek amper nooit doen nie,” vertel ‘n heelwat kalmer Annatjie. Sy verkies om eerder tuis deur middel van Skype met haar man in Zimbabwe te gesels.

Voor haar huis het Annatjie gesien hoe ‘n motor agter haar stilhou en sy het haar man daarvan vertel.

“Hy het vir my gesê ek moet wegry maar ek was vasgekeer.”

Jacques het die gesprek as onwerklik ervaar, maar het kopgehou en dit opgeneem.

“Ek moes vir meer as drie minute hoor hoe hulle haar dreig en wonder wat gaan gebeur, of daar geskiet gaan word en of daar ‘n gil gaan wees.”

Jacques het byna onmiddellik ná die oproep sy swaer gebel en gevra dat hy by NetStar moet seker maak dat die opsporingstoestel in die Land Rover geaktiveer is.

“Hulle het op die ou end die toestel in Dobsonville gekry, maar daar is nog geen teken van die motor nie.”

Annatjie is baie dankbaar dat haar gesin veilig was.

Sy vertel dat haar twee kinders vroeër tuis was maar besluit het om Steers toe te ry vir wegneemkos. Jacques was oor die naweek tuis vir ‘n funksie by Annatjie se Medicine Square apteek en is Maandagoggend terug Zimbabwe toe.

“Ek het net die heeltyd gebid. Dit het my op ‘n manier kalm gehou, en ek dink vir hulle ook.”

Tydens die kaping is Annatjie van haar juwele, selfoon, Galaxy-tablet, TomTom-navigasiestelsel en natuurlik die gesin se Land Rover Discovery 4 beroof. ‘n Bedrag van R1 000 is by die Southgate-winkelsentrum uit haar bankrekening onttrek.

“Ek het hulle gevra om asseblief my identiteitsdokument en lisensie terug te gee, wat hulle gedoen het.”

Volgens Annatjie is “makelaars erger as kapers” omdat sy ten tyde van die Record-onderhoud gehoor het dat haar versekering nie genoeg gaan uitbetaal sodat sy haar kosbare trouring kan vervang nie.

“Die ander is aardse goed maar my trouring het sentimentele waarde; ek voel kaal daarsonder.”

Annatjie sê sy wil graag die gesin van SAPD-lid Shawn bedank wat hul deur vir haar oopgemaak het en haar die landlyntelefoon laat gebruik het om te reël dat sy kon huis toe gaan.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version