CrimeNews

Witpoortjie loop onder gewapende rowers deur

Nog 'n gewelddadige rooftog tref Witpoortjie.

Witpoortjie was weereens die voorstad wat onder ‘n gewelddadige misdaad moes deurloop.

Baie inwoners begin spekuleer dat die voorstad geteiken word deur misdadigers wat nie skroom om geweld te gebruik nie.

Op die oggend van 4 September omstreeks 8.10vm was Koos Kruger (70) van Drakensteinstraat by sy buurman oorkant die straat nadat hy aangebied het om herstelwerk aan Ben Subke (58) se motor te doen. (Kruger is goed gekonfyt in die herstel van motors.)

Kruger, Subke en Kruger se helper, Abel, was in Subke se erf toe vier mans in hulle vroeë twintigs (volgens Subke) skielik op die huis afpeil. Subke het dadelik onraad gemerk en na sy motor gehardloop aangesien hy vermoed het dat dit die bende teiken was.

Die aanvallers het wapens uitgeruk en die drie mans grond toe gedwing. Hulle wou weet aan wie die huis behoort en Subke het gesê dat hy die eienaar is. Hulle het Kruger en Abel in ‘n vertrek vasgebind en toegesluit.

Daarna het hulle Subke met ‘n vuurwapen aangerand en hom gedwing om sy kluis oop te sluit. Hulle het ongeveer R2 400 en ou munte uit die kluis gebuit. Hulle het ook ongeveer R50 000 se juweliersware en die mans se beursies en selfone gevat. Soos die geluk dit wou hê was Subke se vrou en seun nie tuis nie maar sy bejaarde ouers was wel in ‘n tuinwoonstel agter in die erf. Sy vader het by die venster uitgekyk en toe die rowers hom gewaar het hulle op die vlug geslaan met Subke se geleende Peugeot en Isuzu-bakkie.

Die polisie het die bakkie later in Soweto opgespoor maar die Peugeot is nog soek.

Die mans het die polisie geprys vir hulle flink optrede en dankbaarheid uitgespreek oor die feit dat hulle lewens gespaar is.

Related Articles

Back to top button