Editor's choiceLocal newsMunicipalNewsUpdate

Kompleks sonder krag vir meer as 27 uur

City Power krap self kop.

City Power krap self kop nadat ‘n kompleks vir meer as ‘n dag sonder krag moes sit.

Volgens Sol Masolo van City Power, “Lê die probleem moontlik met die krag se konneksies binne die kompleks.

“Indien daar geen krag van buite af kom nie is dit beslis ons verantwoordelikheid maar die feit dat die krag aangekom het sonder dat ons moes ingryp dui daarop dat ‘n elektriese tegnikus ‘n fout opgetel, die probleem geïdentifiseer en dit opgelos het.

“Wanneer daar kragonderbrekings binne ‘n kompleks is en ‘n elektriese tegnikus uitgeroep word dan is dit nie ons verantwoordelikheid nie.”

Kompleks sonder krag vir meer as 27 uur

Minstens 32 eenhede van die De Galdery-kompleks was vir langer as 27 uur sonder krag.

Terwyl die rede hiervoor nog onduidelik is, kan die Record bevestig dat vingers na die munisipaliteit gewys kan word.

Amanda Hone, wat ‘n ogie oor die Trustees se finansies hou, het bevestig dat 32 eenhede in die kompleks geraak is en dat inwoners vir langer as 27 uur met hul hande in hul hare gesit het.

“Niemand se elektrisiteitsrekening is agterstallig nie en ek is nie van ‘n diskonneksie in kennis gestel nie.

“Niemand kon vir my bevestig presies wat die probleem was nie maar daar is wel vir my gesê dat iets met ons substasie buite die kompleks fout gegaan het nadat die munisipaliteit in die area gewerk het.”

Die nagevolge?

Een paartjie van onderskeidelik 74 en 77 moes R3 000 se vleis uit die vrieskas haal en na familielede neem omdat hulle bang was dat die vleis sou bederf; inwoners se veiligheid was in gedrang omdat die hoofhek moes oopstaan; inwoners kon nie bad nie; jong mense kon nie hulle babas se melk warm maak nie en bejaardes moes swoeg en sweet om hulle motorhuisdeure oop te maak terwyl hulle andersins net die knoppie kon druk.

Een ontstelde inwoner het aan die Record gesê dat dit nie daaroor gaan dat hulle nie kon bad of eet nie, maar bloot oor die feit dat niemand ingelig is nie.

“Dit is ‘n groot ontwrigting veral as niemand eers in kennis gestel word nie. Dit is onaanvaarbaar dat al die eenhede hul verpligtinge nakom en betaal, maar dan onkant gevang word.”

Die Record wag nog op Sol Masolo van City Power se kommentaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button