Motoriste vee hulle af aan Ouklip-maatreëls

Spoedteken 500 meter vêr gesleep.

Motoriste het dit duidelik gemaak dat hulle nie ‘n spoedkamera wil hê of die spoedbeperking op Ouklipweg wil gehoorsaam nie.

Op Vrydagoggend 30 Augustus is ‘n spoedteken (60km/h) minstens 500 meter vêr gesleep nadat ‘n motoris dit uitgery het. Die teken is glo oorspronklik op die erf van Bundy Smith (Ouklipweg 115) geplant en toe op die hoek van Felsparstraat op ‘n ander erf gevind.

Oorkant die pad waar nog ‘n spoedteken geplant is, was die kameratjie met ‘n kruis gemerk.

Volgens Smith is dit duidelik dat motoriste hulself aan die padreëls en die gevare afvee.

“Ek het omtrent 12.45 die oggend ‘n slag gehoor en gedink daar is nog ‘n gru-ongeluk. Ek kon op daardie oomblik geen karre sien nie, net stof wat in die lug hang. Ek besluit toe om in die bed te klim.

“Met sonsopkoms gaan loer ek weer buite en sien dat die spoedteken uitgery is. Daar was wit trimmings asook ‘n gat in die gras wat aandui dat ‘n motoris die teken met so ‘n spoed moes getref het dat sy voertuig se verf afgekom het.”

Smith het die teken wat in die helfte geknak is op die hoek van Felsparstraat op ‘n ander erf – minstens 500 meter vêr van Smith se huis af – sien lê.

“Motoriste maak of dit alles een groot grap is. Hulle vee hulle beslis af,” het Smith aan die Record gesê.

“Dit is die tweede keer binne ses maande dat ‘n spoedteken buite my huis uit die grond gery word.”

DA Raadslid van Wyk 83, Suzanne Clarke sê, “Die insident is aan die JRA gerapporteer en ek wag vir terugvoering. Wat mense nie besef nie is dat dit almal geld kos om die tekens te vervang. Dit is dalk nie honderde rande nie maar belastingbetalers moet daarvoor opdok.”

Wat die kruis op die kamera aanbetref glo Clarke dat dit nie ‘n motoris is nie, eerder ‘n voetganger.

“Ek glo nie dit is motoriste nie want mens kan nie net sommer in Ouklip stop, uitklim en ‘n kruis maak nie. Almal gaan jou sien en jou registrasienommer neem en jou rapporteer. Dit is eintlik hartseer dat inwoners nie dink dat ‘n kamera op die pad sal help of dat sekere mense nie die wet ernstig opneem nie.”

Clarke vra dat inwoners oplettend moet wees en respek moet toon vir ander se eiendom.

Clarke het bygevoeg dat sy die Record op hoogte sal hou of die veranderings wat tydens ‘n vergadering bespreek is ‘n werklikheid gaan word.

Sy het die Helderkloof- en Roodekrans-buurtwag, die JMPD asook inwoners wat regdeur die nag help om Ouklip te patrolleer, bedank vir hul bydra tydens die gebeure op Vrydag 16 Augustus.

Wys motoriste/ voetgangers vir die wet vinger? Dit is die ander spoedteken waar die kameratjie met ‘n kruis gemerk is.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version