Pa en seun op brug beroof

Gesin kry nare verwelkoming in Witpoortjie.

‘n Nare insident het ‘n wrang smaak in die Du Plessis-familie se monde gelaat na hulle onlangs na Corlettlaan in Witpoortjie toe getrek het.

Op 15 Julie was Jan du Plessis en sy tienjarige seun, Nicholis oppad om Ontdekkersweg toe te stap waar hulle hul geleentheid werk en skool toe moes ontmoet, toe twee mans hulle op die brug naby Ontdekkersweg aanval.

Die twee mans het hulle van agter gegryp, op die grond gegooi en begin aanrand. Du Plessis (snr) is ook met ‘n broodmes gesteek maar klein Nicholis het ligter met net ‘n paar skrape daarvan afgekom. Hulle het Du Plessis se werksgereedskap, twee selfone en selfs sy sigarette gegryp.

“My klein seuntjie het huilend en skreeuend huis toe gehardloop terwyl motors net verby gery het,” sê Jenny du Plessis, ma van Nicholis.

“Na ons rond gevra het, het ons uitgevind dat daar gereeld insidente op die brug is. My man moes net ‘n paar steke kry maar die volgende persoon mag dalk nie so gelukkig wees nie. Ons wil hê mense moet op hulle hoede wees,” vra mevrou Du Plessis.

Die polisie ondersoek die saak.

Exit mobile version