Sport

Geen keer aan Emile nie

Daar is niks wat hierdie jong man onderkry of verhoed om alles te probeer, en nét sy beste te gee nie.

Emile van Heerden (47) het nog nie ‘n uitdaging in die gesig gestaar waarvoor hy nie kans gesien het nie.

Maryna van Heerden, Emile se ma, vertel, “Daar is altyd iets nuuts wat hy wil probeer, en daar waar ek glo hy dit kan doen, laat ek hom dit doen. Emile blink uit in amper alles wat hy aan pak, en laat nie toe dat sy gestremdheid om terug hou nie.”

Sy het bygevoeg dat Emile verstandelik gestrem is. “Hy is gesond gebore, maar het net nadat hy die masels, kinkhoes en witseerkeel vaksien ontvang het, begin konvulsies en stuipe kry, en dit is waar ons uitvind hy is allergies vir die kinkhoes gedeelte in die vaksien.”

Emile se liefde vir sport is iets wat beslis sterk in die Van Heerden-gesin se bloed vloei; sy pa en broer het albei gehardloop en ook geswem. Hy is in KZN gebore, en sy ma het vertel dat hy reeds op sesjarige ouderdom aan die Spesiale Olimpiese Spele vir dié provinsie deelgeneem het.

“Ek dink die swemgogga het Emile eers regtig gebyt toe ons Wes-Rand toe getrek het en hy by Gateway begin skoolgaan het. Hy het elke jaar aan die skoolkompetisies deelgeneem en gewen. Hy was ‘n handvol!” vertel sy ma laggend.

Behalwe vir swemkompetisies by die skool, het Emile ook vroeg-vroeg aan die Midmar Myl buite Pietermaritzburg begin deelneem, en hierdie jaar het hy sy 20ste Midmar geswem. Hy het ook al, onder andere, in Germiston, Roodeplaat Dam en Sun City geswem, “Hy is altyd ‘n wenner!” het sy ma trots vertel.

Emile van Heerden met sy 20ste Midmar Myl toekenning.

Emile se oefenprogram voordat hy aan die Midmar deelneem, is nogal streng en hy probeer om elke dag ‘n oefensessie by ‘n plaaslike swembad of die gimnasium in te werk. Hy is baie dankbaar vir sy ma wat hom na die oefensessies, swemkompetisies en wedlope neem.

“Dit is ons roetine vir die afgelope 20 jaar al. Wanneer hy nie by een van die swembaddens oefen nie, neem ek hom elke tweede middag na die gimnasium toe, asook na elke wedloop of swemkompetisie. Ons het al 3uur opgestaan vir ‘n wedloop in Pretoria!” het Maryna gesê.

Hy is nie net ‘n swemmer nie, maar is ook lid van ‘n Krugersdorpse hardloopklub waar hy al heelwat wedlope voltooi het. Om alles te kroon, is hy ‘n kranige karateka en is besig met voorbereidings vir sy swart gordel. Hy speel ook gereeld pool saam met die inwoners by Sterlig aftreeoord, en, volgens Maryna, is hy baie geliefd en gewild.

“Emile glimlag altyd en is nie moeilik nie. Hy is altyd vriendelik.”

Maryna het vertel dat hy sewe jaar gelede by die werkerskorps aangesluit het en by Eskort werk.

“Hy is ‘n pakker en is altyd gewillig om te help waar hy kan. In 2023 was hy ook as die Werknemer van die Jaar aangewys. My hart wil bars van trots!”

Dit is duidelik dat Emile nog nie gereed is om binnekort af te skaal nie.

“Terwyl ek dit nog vir hom kan doen, sal ek. Dit is iets wat hom gelukkig maak,” het Maryna afgesluit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button