Local newsUpdate

Sonneblom Projek beoog om kinders met skryfbehoeftes te help

Die gemeenskap word gevra om te help met donasies om die 'starter packs' vol te maak om uit te deel.

In Oktober het die Roodepoort Record verslag gelewer oor die ontydige afsterwe van 11-jarige Dantè Coetzee op 30 September 2023. Ter herinnering van haar seun samel sy ma, Chantell, nou skryfbehoeftes in om ander leerders te help.

Chantell verduidelik, “Dié wat vir Dantè geken het, weet dat hy die mooiste hart gehad het. Hy het na elke kwartaal sy ou skryfbehoeftes in ‘n sak gegooi en gevra ons moet dit vir iemand gee wat nie het nie.”

• Lees ook: Gemeenskap in rou na die afsterwe van jong seun

Die Sonneblom Projek is ter herinnering van Dantè Coetzee. Foto: Verskaf.

Toe sy dus ‘n geskenk van Hoërskool Bastion kry van 100 boksies inkleurpotlode, wat deur die Verteenwoordigende Leerderraad ingesamel is met die doel om dit te skenk in Dantè se naam, het sy besluit om dit as deel van “starter pack” boksies te skenk om kinders aan die gang te kry vir die eerste dag van skool en ouers kans te gee tot die einde van die maand indien nodig om al die ander nodige skryfbehoeftes aan te koop. Die boksies sal dan by verskeie skole uitgedeel word. Die besluit het gekom na sy gereelde versoeke op Facebook gesien het waar ouers vra vir hulp met skryfbehoeftes.

Een van die ‘starter packs’. Foto: Verskaf.

Sy verduidelik Dantè wou hierdie jaar aan die Mnr Wesrand Junior kompetisie deelneem, aangesien hy dan mense sou kon help. Sy boetie Willem is tans Mnr Wesrand Junior.

“Ek was trots om dit te hoor, want hy was eintlik ‘n baie skaam seuntjie, maar sy hartjie was op die regte plek. Ek het begin dink hoe ek ander sal kan help in sy naam,” het Chantell gesê.

Dantè Coetzee. Foto: Verskaf.

Sy het verduidelik elke boks bevat twee pakkies inkleurpotlode, ‘n uitveër, ‘n skerpmaker, ‘n HB potlood, ‘n blou pen, ‘n pakkie aartapelskyfies en ‘n suigstokkie.

“Ek het dit die Sonneblom Projek genoem, want ‘n sonneblom laat my die meeste aan Dantè dink. ‘n Sonneblom simboliseer ‘n lang lewe en voortdurende blydskap. Dantè se lewe was wel kort, maar hy leef voort in die lewens van almal wie hy aangeraak het. Hy het definitief geluk gebring,” het Chantell bygevoeg.

Hulle benodig steeds nog uitveërs, skerpmakers, HB potlode en blou penne. Enige iemand wat ‘n donasie wil maak kan dit by die R5-winkel by PicknPay Witpoortjie in Generaal Pienaarlaan aflaai waar daar ‘n skenkingsboks is, of kontak Chantell op 061 437 4671.

“Ons wil graag elke persoon bedank vir hul hulp en bystand. Dantè sal bly voortleef in projekte en al is hy nie meer hier nie, sal hy sy kans kry om nogsteeds mense te help,” het Chantell afgesluit.

Related Articles

Back to top button