Local news

Gemeenskap in rou na die afsterwe van jong seun

Al was Danté Coetzee maar net 11 jaar oud; het hy 'n groot impak op almal om hom gemaak.

Daar word gesê dat ‘n kind net aan ‘n ouer geleen word, maar wanneer jou tyd saam met jou kind na ‘n skamele 11 jaar skielik kort geknip word, is daar altyd meer vrae as antwoorde.

Dit was die geval vir Chantell Coetzee en haar gesin toe hul 11-jarige seun, Danté, skielik op 30 September oorlede is.

Chantell vertel dat Danté ‘n sagte kind was wat altyd die mooi in alles gesien het en enigiemand se hart kon steel deur net te glimlag.

“Hy was altyd positief en as daar iets negatief oor sy pad gekom het, het hy gesê, ‘mamma, dit is nie ‘n probleem nie, dit is net ‘n uitdaging’.”

Danté Coetzee was ‘n lid van die padpatrollie by Laerskool Dr Havinga.

Sy het bygevoeg dat hy ‘n tipiese seunskind was, “Hy was altyd vuil en vol sand, want hy was mal daaroor om buite te speel. Soms was hy al 05:00 buite saam met sy pappa, waar hy sy ongelooflike ryk verbeelding vrye teuels gegee het. Ons kon ons verkyk aan Danté, al was sy handjies klein, het dit vir niks verkeerd gestaan nie, en hy kon iets uit niks uit bou. Hy was ook baie lief daarvoor om goedjies te bou wanneer hy met sy Lego gespeel het. As ek aan al hierdie goed dink, is dit dan ook glad nie vir my snaaks dat Danté eendag ‘n bouer wou word nie.”

Danté was ‘n graad ses leerder by Laerskool Dr Havinga en sy ma het vertel dat hy altyd nét sy beste gegee het in alles wat hy doen – van akademie tot by sport.

“Hy was ‘n trotse Poorte [Roodepoort Rugbyklub] speler en het hierdie jaar vir die skool se eerstehokkiespan ook gespeel.”

Die vraag is altyd, hoe bly jy staande deur so tipe tragedie? Chantell se antwoord is eenvoudig, “Al wat Danté altyd wou hê, is dat ons as gesin en familie moet saamstaan en altyd daar moet wees vir mekaar. Ons kry ons krag om elke dag aan te gaan, eerstens van God, en tweedens van mekaar. Ons was nog altyd ‘n baie gehegte familie, en ek en my man lewe nie net vir mekaar nie, maar ook vir ons kinders.”

Danté is op 4 Oktober, wat ook sy verjaardag is, vanuit die AGS Simfoniegemeente begrawe. Sy diens is deur pastoor Jacques Pienaar behartig.

Danté Coetzee is op 4 Oktober te ruste gelê.

“Tydens Danté se begrafnisdiens het pastoor Jacques gesê dat sommige mense lewe tot 70 of 80 jaar en niemand weet iets van hulle af nie. Danté het in sy 11 jaar van lewe ‘n groot impak op baie mense gehad. Hierdie woorde is iets wat vir ons troos bring, om te weet dat hy sal bly voortleef in almal se lewens wie hy aangeraak het met daardie glimlaggie van hom,” het Chantell gesê.

Daardie impak kon duidelik gesien word in die bystand, liefde, omgee, donasies en meer as 400 oproepe en WhatsApps wat die gesin vanaf die gemeenskap ontvang het.

“Daar is ‘n duisend woorde wat ek kan sê, maar dit voel net asof dit nooit genoeg sal wees om ons danbaarheid uit te druk nie. Al wat ek kan sê is dankie, dankie, dankie, ons waardeer dit so baie! Dankie ook aan Anmor begrafnisdienste vir die pragtige totsiens; dit was nie net nog ‘n begrafnis vir hulle nie, dit was persoonlik.”

Chantell het afgesluit, “Ons sal Danté altyd onthou vir die positiewe uitkyk wat hy op die lewe gehad het. Ons was geseën om hom vir 11 jaar, 11 maande en 27 dae te kon leen by God, en nou waak hy oor ons. Ek, sy pappa en sy drie broers en sussie mis hom vreeslik, maar ons gaan nou lewe vir hom!”

Laerskool Dr Havinga het ook vir die leerders ‘n bemoedigingsdiens gehou op 10 Oktober, wat deur pastoor Jacques waargeneem is.

Die skoolhoof, Marius Swanepoel, het gesê, “Ons is nou een sonstraaltjie minder. Danté was ‘n baie oulike kind, baie vriendelik, hy het altyd geglimlag en was altyd reg vir ‘n geselsie. Hy was nooit kwaad of ongelukkig nie.”

Hy het bygevoeg dat Danté se klasmaats ook hulp en ondersteuning van beraders ontvang het, om hulle te help om die verlies van hule maat te verwerk.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button