Local newsNews

Horison View paartjie vier 59 jaar van getroude lewe saam

"Geloof is die sleutel tot geseënde gesonde huweliksjare."

Saffier, diamant, silwer jubileum, pêrel, robyn en goue jubileum. Dit is al die huweliksherdenking mylpale wat Fanie en Joan Kleynhans, beide 84 die jaar, sover saam gevier het.

Hulle het hul 59ste huweliksherdenking op Woensdag, 15 Februarie gevier. Die paartjie het op die ouderdom van 22, in 1962, ontmoet en vir ‘n jaar lank briewe vir mekaar gestuur voor hulle verloof geraak het.

Joan en Fanie Kleynhans is op 15 Februarie 1964 in Hillary, Durban getroud.

“My vrou het destyds in Pretoria gebly en gewerk terwyl ek nog verder studeer het in Durban,” het Fanie verduidelik. Hy het in die winter van 1963 vir Joan gevra om met hom te trou en amper agt maande later was die paartjie voor die kansel in Hillary, Durban getroud.

Fanie en Joan is geseën met twee dogters, ses kleinkinders en drie agterkleinkinders. Hulle deel graag advies aan die jonger generasies vir ‘n vol en voorspoedige huwelik.

“Geloof is die sleutel tot geseënde en gesonde huweliksjare. Moet nie kwaad gaan slaap nie, los eers die konflik op voor die nuwe dag begin,” verduidelik Fanie, “en weereens ‘n sterk geloofstelsel en verstandhouding met jou huweliksmaat is baie belangrik!”

Fanie glimlag toe hy terugdink aan hulle vorige huweliksherdenkings, en onthou met graagte hulle 25ste en 50ste herdenkings.

“Vir ons 25ste huweliksherdenking het ons hele gesin bymekaargekom in Margate om die mylpaal saam te vier – dit was in 1999,” vertel hy, “en nege jaar terug, vir ons 50ste herdenking, het NG Horison Noord ons onthaal saam met al ons familie – dit was ‘n merkwaardige byeenkoms.”

Die jaar het die paartjie hulle 59ste huweliksherdenking by die huis saam met familie gevier.

“Ongelukkig met ouderdom kom daar sekere fisiese beperkings, my vrou is gediagnoseer met Alzheimer se siekte en het ook Artritis so ons bly meeste van die tyd tuis,” het Fanie vertel.

Hy sien uit om volgende jaar hulle 60ste jaar van getroude lewe saam met hulle familie te vier.

Related Articles

Back to top button