Local newsUpdate

[OPVOLG] Greg loop pad van herstel

Dié lewenslustige inwoner meen hy volg 'n gesonde dieet en het stadig maar seker weer begin oefen.

Roodepoort — In Julie het die Record verslag gedoen oor plaaslike inwoner, Greg Allies wat in sy voorerf in Vierdelaan deur ‘n dwaalkoeël bo sy regterheup getref is.

Skanderings het bevestig dat hy met ‘n holpuntkoeël raakgeskiet is, waarvan die deeltjies sy dunderm, dikderm en verskeie spiere geperforeer het. Daar het ook ontlasting tussen sy organe begin deursyfer wat noodlottige gevolge kon hê.

LEES OOK: Dwaalkoeël lei tot nagmerrie-ervaring vir Roodepoort inwoner

Sedertien het Greg twee operasies ondergaan en moes fisioterapie ontvang om weer te kan sit, loop en voorwerpe vas te hou. Hy moes ook gewoond raak aan ‘n nuwe leefstyl met ‘n stoma, en ander eetgewoontes aanleer.

Alhoewel Greg al mooi aangesterk het, loop hy steeds die pad van herstel.

“Die koeëldeeltjies is steeds in my liggaam en ek dra ook nog die stoma. Ek het nooit gedink dat ‘n lewe met ‘n [stoma] sakkie so uitdagend sou wees nie. Alles moet rondom dié sakkie beplan word. Maar verder is ek, en die kenners by die hospitaal tevrede met my vordering,” het hy vertel.

Greg Allies gesels oor sy pad van herstel. Foto: Alanicka Lotriet.

Dié lewenslustige inwoner meen hy volg ‘n gesonde dieet en het stadig maar seker weer begin oefen.

“Ek is nog altyd baie lief vir stap, en stap graag deur die buurt wanneer ek die kans kry. Daarom is ek baie opgewonde om aan te kondig dat ek onlangs ‘n 5km pretloop voltooi het. My liggaam het al so mooi herstel en ek is dankbaar dat ek hom weer kan gebruik om die dinge te doen waarvoor ek lief is,” het hy vertel.

Greg Allies gesels oor sy pad van herstel. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens Greg het hy reeds ‘n gesonde 20kg afgeskud sedert sy eerste operasie. Alhoewel hy groot aanpassings in die gesig gestaar het, meen Greg dat hy dit nooit sou kon doen sonder sy vrou, sy seun en natuurlik sy geloof nie.

Hy het ook in die tyd deel geword van die South African Society of Stomates (SASS) waar hy baie waardevolle hulp, raad en ondersteuning ontvang het. Greg vertel verder dat die koeëldeeltjies en die stoma hopelik einde Januarie verwyder sal word en kan hy nie meer wag vir dié dag om aan te breek nie.

Greg Allies gesels oor sy pad van herstel. Foto: Alanicka Lotriet.

Alhoewel die persoon wat die skoot afgevuur het nog nie gevind is nie, sê Greg hy het nie slapelose nagte daaroor nie.

“Die Here het ‘n plan met alles en ek glo dat Hy my dit dalk spaar – om te weet wie die persoon is. Ek het ook geen haat binne my nie en kies om die positiewe te sien. Al skrik ek nog vir skielike harde geluide keer dit my nie om in die buurt te gaan stap soos altyd nie,” het hy met ‘n glimlag vertel.

Greg Allies gesels oor sy pad van herstel. Foto: Alanicka Lotriet.

As deel van SASS hoop Greg om ander ook bewus te maak van die effektiewe ondersteunersgroep. Indien jy daarin belangstel om deel te word van die groep, kan 066 261 0654 geskakel word vir meer inligting.

Greg meen hy is dankbaar vir almal wat hom ondersteun het en vir hom gebid het die afgelope vyf maande.

Related Articles

Back to top button