KidsLocal newsPrimary School

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Muldersdrif

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan."

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 14 Oktober die Laerskool Muldersdrif besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees. Leerders word ook geleer om tussen afknouery en konflik te onderskei. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Leerders word ook meer oor die gevare rakende kuberafknouery ingelig en die gebruik van sosiale media en die internet,” sê Leandie Bräsler, bestuurder vir jeugleierskap by AfriForum.

“Boeliebewusmaking onder ons kinders is van kardinale belang. Nie net om te weet waarvoor om uit te kyk nie, maar om aangemoedig te word om daaroor te praat en om te weet dat daar altyd hulp en uitkoms is. Ons missie is om leerders op te lei om empatiese volwassenes in die samelewing te wees, ’n generasie wat omgee en God se liefde uitleef,” sê Johané van Niekerk, leerderondersteuning, SBST-koördineerder en kinderkinetikus by die skool.

Die graad 6 en 7-leerders het die nuwe film, Die Val, wat oor boeliegedrag gaan, gekyk. Hierdie film skep bewusmaking oor boeliegedrag en wys dat daar hoop is. Dié film is gratis op AfriForumTV beskikbaar. Die AfriForumTV-toep kan ook op die Google Play Store en die App Store afgelaai word.

Johane van Niekerk, Jean Mouton, Luther Bakkes, Leandie Bräsler, Karla van Lingen, Natalie Beuthe en Tania Scheepers.

Related Articles

Back to top button