Local newsNewsSchools

Roodies blink uit by Tjokkertoneel

Op Saterdag, 14 Mei het talle deelnemers op die verhoog gepryk en met groot passie hul stories voor 'n vol gehoor vertel.

‘n Groepie Laerskool Roodekrans-leerders het onlangs vir die sterre gemik toe hulle aan die ATKV se jongste toneelaanbod, ATKV-Tjokkertoneel deelgeneem het.

Alhoewel dié nuwe projek reeds in 2019 bekendgestel is, is die uitvoerbaarheid daarvan deur die pandemie gekelder. Na ongeveer drie jaar se wag het tjokkers van regoor Gauteng uiteindelik die geleentheid gehad om hul vaardighede op die proef te stel.

Op Saterdag, 14 Mei het talle deelnemers op die verhoog gepryk en met groot passie hul stories voor ‘n vol gehoor vertel.

Laerskool Roodekrans is in hul skik dat hul eie Amerize Kleinsmith gedurende ‘n spogprysuitdeling as die beste Tjokker Aktrise aangewys is. Sy het Astrid Penn in die ensemble Fort Beaufort uitgebeeld.

Die Roodie-span se Fort Beaufort-toneelstuk het boonop die toekennings vir Beste Tjokker Ensemble en Beste ATKV-Tjokkertoneelproduksie ontvang. Dit kom dus as geen verrassing nie dat hul Dramatix afrigter, Juffrou Suné Senekal die toekenning vir Beste Tjokker Regisseur ontvang het.

ATKV-Tienertoneel se bekroonde teatermakers, Mariki de Villiers-Knop en Barnie Mans was die mentorbeoordelaars, en hulle was verstom oor die Tjokkers se kreatiewe werk en waagmoed – om stories geloofwaardig te vertel terwyl hulle ook suksesvol aan alle ander teaterelemente aandag gee.

Deelnemers ontvang buiten toekennings vir deelname en prysenswaardige prestasie ook pasgemaakte stemnotas van albei mentors om hul talent verder mee te slyp.

Dramatix en Laerskool Roodekrans is trots op die leerders en hul uitmuntende prestasies.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button