Local newsNews

Goue Dames met goue harte

Hul brei graag beertjies, komberse, truitjies, serpe, mussies en kousies, en sommer enigiets tussenin.

Vir inwoners van die Sterlig Aftree-oord is brei meer as net ‘n prettige tydverdryf. Vir dié bobaasbreiers is dit ‘n manier om terug te gee aan die gemeenskap.

Alhoewel inwoner Engela van der Westhuizen die behoefte vir ‘n breigroep ongeveer sewe jaar gelede geïdentifiseer het, het sy nooit gedink dat die klub so sou groei nie.

“Ons noem onsself die Goue Dames. Ek het oorspronklik die groep begin vir dames van die oord om bymekaar te kom en mekaar te leer ken. Dis ‘n lekker manier om nuwe mense te ontmoet en om net lekker te gesels en te ontspan,” het sy vertel.

Lappies van Schalkwyk geniet dit om te brei. Foto: Alanicka Lotriet.

“Kort voor lank het ons verskeie versoeke gekry en het ons verdienstelike sake gehad om te ondersteun. Daarom brei ons vir die afgelope paar jaar graag vir verskeie projekte asook diegene wat dit nodig het. Waar die behoefte ook al is, daar sal ons brei.”

Die groep bestaan tans uit ongeveer 15 lede en kom gereeld bymekaar om die brei- en hekelnaalde te laat klik vir ‘n goeie doel. Volgens Engela brei hulle graag beertjies, komberse, truitjies, serpe, mussies en kousies, en sommer enigiets tussenin.

Cillie Schoombie hekel ‘n kombers. Foto: Alanicka Lotriet.

Hulle het al gebrei vir Beanies 4 Babies; Leratong Hospitaal; siek-, mishandelde- en minderbevoorregte kinders; asook kerkbasaars, om net ‘n paar te noem. Die groep pak ook graag projekte aan saam met hul bure – die inwoners van die Wilro Park Aftree-oord.

“Ons het onlangs met die hulp van die Wilro Park Aftree-oordinwoners dit reggekry om ongeveer 60 babastelletjies wat bestaan uit ‘n mussie en kousies aan Beanies 4 Babies te skenk. Dis sowaar vir ons die grootste eer, en dis boonop iets lekkers om te doen,” het Engela vertel.

Joey van Vuuren en Susan Smit kuier lekker saam. Foto: Alanicka Lotriet.

Die groep is op die oomblik besig om pragtige komberse aanmekaar te stik en is opgewonde om te sien watter uitdaging om die draai op hul wag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button