Local newsNews

Skoonheidskompetisiefinalis wil ander help

Sy het reeds 'n paar suksesvolle projekte agter die rug.

Om jou bokshandskoene vir hoëhakskoene te verruil is nie maklik nie, maar vir skoonheidskompetisiedeelnemer Chanté van Eeden is dit ‘n uitdaging wat sy met graagte aanvaar het.

Dié Graad 9 Hoërskool Bastion-leerder is onlangs as finalis vir die Miss Krugersdorp/Randfontein 2021/22-kompetisie gekies.

“Ek is ‘n bokser vir Vikings Amature Boxing en ek is ook die enigste meisie met twee boeties. Al het ek rof grootgeword, het die skoonheidskompetisies die ‘sag’ in my uitgebring. Ek het gou besef dat ek die beste van beide wêrelde kan hê,” het sy vertel.

Haar liefde vir skoonheidskompetisies het begin toe sy in Graad 7 aan Mnr en Mej Havie deelgeneem het. Sy was nie net een van die Top 10-finaliste nie, maar het ook met die vierde plek weggestap.

“Ek was boonop ‘n leier in Graad 7, en as leiers was ons dikwels by liefdadigheidsprojekte betrokke. ‘n Baie goeie vriendin van my ma is ook betrokke by die bedryf, en ek het haar nog altyd bewonder omdat sy mense help,” het sy vertel.

Chanté van Eeden wil graag ander help waar moontlik. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ek het altyd gedink dit gaan oor hakskoene, aandrokke en mooi hare, totdat ek besef het dit gaan oor soveel meer. Om mooi te lyk is ‘n groot pluspunt, want wie wil nie soos `n prinses lyk nie, maar om minderbevoorregte mense te kan help is ‘n baie groot passie.”

Sy het reeds ‘n paar suksesvolle projekte agter die rug en is tans besig met ‘n aantal nuwe gemeenskapsprojekte. Dit sluit in ‘n skenking aan Mama Smurf Dagsorg asook ‘n Cupcake-pretdag vir die kinders, ‘n skenking aan Munsieville se Pangokamp, ‘n sanitêre doekies-projek, en ‘n Dag as ‘n Dagsorgma-veldtog.

“’n Groot veldtog wat my baie na aan die hart lê is my 1 Pad = 1 Fab-projek. Navorsing toon dat vier uit tien meisies elke maand ‘n dag van skool verloor omdat hulle menstrueer. Dis gewoonlik meisies wat nie sanitêre doekies kan bekostig nie,” het Chanté verduidelik.

“Ek wil graag vir die skole in ons area I Care-pakkies opmaak wat bestaan uit twee doekies, en `n aanwysingspamflet. Ek vertrou dat hierdie pakkies die meisies en so ook skole sal help sodat hulle fabulous bly.”

Chanté wil graag ‘n verskil maak en vra daarom enige donasies in die vorm van tweedehandse klere, speelgoed, skryfbehoeftes, tasse, beddegoed en sanitêre doekies. Sy wil graag elke skenker met ‘n heerlike lekkerny bedank.

“Daar is ongelooflik baie behoeftige mense in ons omgewing. Covid-19 het die werkloosheidsyfer laat styg, en daar is kinders wat honger gaan slaap; mense wat in die koue enigiets sal doen vir ‘n kombers; en meisiekinders wat senuweeagtig raak as hulle gewone klere skool toe mag aantrek. Ek wil daardie mense help,” het sy gesê.

“Een ding is seker – die skoonheidkompetisiebedryf het my ongelooflik dankbaar gemaak. Hiermee wil ek graag veral my ouers bedank vir hulle bystand, ondersteuning, aanmoediging en sommer net alles. Sonder hulle sou ek nooit so vêr gekom het nie.”

Vir enige navrae of donasies, skakel haar gerus by 061 437 4671 of 084 643 7909. Onthou ook om haar Facebook-blad, Chantè van Eeden-Miss Jnr Krugersdorp/Randfontein 2021/22 te besoek.

Related Articles

Back to top button