NewsSchools

Laerskool Dr Havinga-hoof sê die skool is gereed om te begin

“Vir ons kinders is die skool die veiligste plek waar hulle kan wees.”

Soos ‘n kaptein wat sy kompas en kaart bestudeer terwyl hy deur gevaarlike waters vaar, word daar aandag gegee aan die uitdagings wat voorlê.

Laerskool Dr Havinga-hoof, Marius Swanepoel, is minder as ‘n jaar in sy pos, maar het reeds heelwat drama in sy loopbaan beleef. Ten spyte hiervan staan hy sterk en geniet die geleentheid om te voldoen aan die standaarde van uitnemendheid wat sinoniem met sy skool is. Dit is belangrik vir hom om ‘n paar tree voor te bly, en hy het laggend sy gunsteling Engelse spreuk aangehaal, “Failing to plan is planning for failure”.

Die personeel van Havies het sedert November verlede jaar vir die 2021-skooljaar voorberei en Marius is opgewonde om uiteindelik aan die gang te kom. “Toe die Departement van Onderwys aangekondig het dat die skole eers op 15 Februarie sal heropen, was dit aanvanklik baie teleurstellend, want ons was gereed om ons leerders te ontvang en met die skooljaar te begin. Al ons stelsels was in plek en al die personeel was gereed vir die nuwe skooljaar. Terugskouend het die regering die regte besluit geneem,” het hy gesê.

Laerskool Dr Havinga-hoof, Marius Swanepoel. Foto: Jarryd Westerdale.

Om die Havies-gesin veilig te hou, is sy eerste prioriteit. “Ons neem nie kortpaaie as dit kom by die veiligheid van personeel en leerders nie. Ons skool word elke twee weke deur ‘n diensverskaffer ontsmet, wat uit die skoolfonds betaal word. Vir ons kinders is die skool die veiligste plek waar hulle kan wees,” het Marius gesê. Hy het bygevoeg dat alle protokolle tot op die letter gevolg word.

Die belangrikste is die ondersteuning van ouers, leerders en personeel wat almal dieselfde doel voor oë het, en net die beste vir die Havie-gesin wil hê. Marius, wat altyd inspireer, het gesê, “Ons by Dr Havinga sal alles in ons vermoë doen om ons kinders veilig te hou deur hulle die skoonste en veiligste skool te gee waarvoor hulle sou kon wens. Dit, saam met briljante onderwysers en ‘n akademiese program van die hoogste gehalte, en jy sal die beste resep vir sukses hê. Daar sal absoluut geen leerder agterbly nie.”

Related Articles

Back to top button