NewsSchools

Kruiner-redenaar presteer

Sy het 'n sagte hart, sien altyd die beste in ander raak en probeer help waar sy kan.

Hailey Keys, ‘n Graad 3-leerder van Laerskool Helderkruin het haar skool se naam hoog gehou toe sy aan die Conspirito-aanlynredenaarskompetisie deelgeneem het en 92 persent behaal het.

Hailey se ma, Elizabeth Keys het vertel dat haar dogter gemaak is om te vermaak, en gesê, “Hailey is ‘n ekstrovert en deel so baie liefde uit. Sy het ‘n sagte hart, sien altyd die beste in ander raak en probeer help waar sy kan. Sy is mal oor drukkies uitdeel, so jy kan dink die inperking vat aan haar.

Sy is gaande oor die verhoog, en neem deel aan ballet, drama en sing ook graag.”

Sy het nog altyd gehou van alles wat met kultuur verband hou, en toe sy die eerste keer aan redenaars deelgeneem het, het sy dadelik daarop verlief geraak. Haar prestasies spreek vanself.

“Sy het al aan verskeie sang-, drama- en redenaarskompetisies deelgeneem en medaljes, sertifikate en diplomas ingepalm. Hierdie jaar het sy net voor die inperking aan Allegretto deelgeneem, waar sy bo 90 persent vir redenaars en dramastukke behaal het,” het Elizabeth gesê.

Alhoewel Hailey se heel eerste redenaarskompetisie in Graad 2 nie heeltemal volgens plan verloop het nie, het sy vanjaar weer probeer. “Hierdie jaar het sy by die skool deelgeneem en was weer een van die toppresteerders. Sy is deur na die ATKV-rondte, maar weens die Covid-19 pandemie is die ATKV-kompetisie gekanselleer. Ons het besluit om haar aan ander aanlynkompetisies te laat deelneem aangesien sy klaar al die werk ingesit het,” het Elizabeth gesê.

Sy het verduidelik dat hierdie kompetisie nogal ‘n uitdaging was, omdat alles aanlyn plaasgevind het. “Die deelnemers moes hul praatjie aan die beoordelaars lewer deur middel van ‘n WhatsApp-video-oproep. Die verslag en uitslag is na die tyd aan elke deelnemer gestuur.

“Vir Hailey is redenaars iets waarvan sy baie hou want dit help nie net haar redeneervermoë nie, sy doen ook meer kennis op. Haar gunstelingaspek is egter om op die verhoog te wees en met mense te kommunikeer.

Sy glo dat harde werk altyd beloon sal word, en het met dié boodskap afgesluit: “Wees jouself en gaan voluit vir dit waarvan jy hou. Maak tyd daarvoor en werk vir dit wat jy wil hê. Dan sal jy die vrugte pluk.”

Related Articles

Back to top button