Local newsNewsUpdate

Florida se Clarece laat haar nie onderkry nie

‘Ek het dalk kanker, maar dit keer my nie om voluit te lewe nie’

 

Vir die 18-jarige Clarece Scholtz was die laaste jaar en drie maande ‘n konstante stryd, maar sy het besluit dat kanker haar nie gaan onderkry nie.

Clarece is in Julie verlede jaar met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer, maar ten spyte van ‘n terugslag ses maande gelede gaan dit baie goed met haar.

Lees die oorspronklike artikel hier:

https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2018/07/31/ek-het-10-jaar-ouer-geword-in-net-een-weekflorida-meisie-ontvang-diagnose-wat-haar-lewe-verander-web/

Sy het verduidelik dat sy nou nie meer elke 25 dae opgeneem hoef te word vir chemoterapie nie, aangesien die dokter haar behandeling verander het en sy nou tablette gebruik, “Ek voel beter as wat ek in ‘n lang tyd gevoel het, en die tablette maak my ook nie so siek soos die chemoterapie nie. Aangesien ek nou eintlik in remissie is, hoef ek nie chemoterapie te kry nie. Die tablette is deel van ‘n bestuursplan om te verseker dat ek in remissie bly.”

Haar ma, Fransie Scholtz, het bygevoeg dat hulle steeds elke dag wat Clarece wakker word, as ‘n geskenk beskou, aangesien die tipe kanker wat sy het, nie genees kan word nie. “Mense mag dink dat ons ongevoelig is, maar die realiteit is dat ons nie weet hoe lank Clarece nog saam met ons gaan wees nie – dit mag dalk ‘n dag wees, ‘n week of jare. Jy kan nie toelaat dat dit jou onderkry nie,” het Fransie gesê.

Lees meer:

https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2018/09/12/ek-sal-nie-toelaat-dat-kanker-my-wen-nieflorida-meisie-bly-veg-teen-leukemie-web/

Sy het ook vertel dat Clarece se hele uitkyk op die lewe verander het na haar diagnose. “Sy moet nou besluite neem oor dinge waaraan ander meisies van haar ouderdom nie eers hoef te dink nie. Terwyl hulle dalk wonder wat hulle môre gaan aantrek klas toe, watter grimering hulle gaan gebruik of watter haarstyl hulle gaan kies, het Clarece reeds besluite geneem oor haar begrafnis. Sy het ook al reëlings getref dat haar organe geskenk moet word vir navorsing. Dit is hoe nugter sy daaroor is.”

Clarece het ook vertel dat sy weer begin dans het. Dit is iets waarvoor sy nog altyd baie lief was en waarvoor sy ‘n groot passie het. “Met dié dat ek weer ‘n bietjie meer energie het, het ek weer by my ou dansskool aangesluit. Ek het ook begin om so een maal ‘n week vir die jonger dansers klas te gee,” het sy borrelend vertel.

Sy het boonop ‘n aanbod ontvang wat haar hele toekoms kan verander, “Die eienaar van die dansskool is in die proses om te emigreer en sy het vir my gevra of ek sou belangstel om die dansskool oor te neem. Haar enigste voorwaarde is dat ek nie net my danseksamens moet voltooi nie, maar ook ‘n onderwysgraad kry.”

Fransie het gesê dat sy en Clarece uit die veld geslaan is deur hierdie aanbod, “Ek het vir haar gesê dat hierdie ‘n deur is wat vir haar oopgemaak is, en dat dit haar besluit is of sy die kans gaan aangryp, of nie.”

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2019/04/23/kanker-gaan-my-nie-onderkry-nieflorida-meisie-veg-terug-na-terugslag-web/

Voordat hierdie droom vir Clarece bewaarheid kan word, moet sy eers haar studies voltooi. “Finansieel gaan dit vir ons ‘n groot uitdaging wees. Ek kry op die oomblik maar net ‘n klein salaris, maar ek sal definitief probeer spaar om vir my studies te betaal.”

Intussen is Clarece ook deur die Reach for a Dream Foundation genader, en sy het gesê, “Hulle het my besoek en gesê dat hulle my details by die hospitaal gekry het. Hulle wil graag help om ‘n paar items wat op my wenslys is, te help realiseer.” Dit sluit ‘n nuwe rekenaar in wat modern genoeg is sodat sy saam met haar vriende sonder enige probleme aanlynspeletjies kan speel, ‘n besoek aan Australië, waar haar kêrel op die oomblik bly (alhoewel sy nie doodseker is of haar dokter dit sal toelaat nie) en sy wil bitter graag weer ‘n seevakansie hê. “Maar hierdie keer sal ek graag ‘n bietjie langer as net vyf dae daar wil wees,” het sy gesê.

Vir meer inligting oor hoe Clarece gehelp kan word, stuur ‘n epos na die Record by adeleb@caxton.co.za. Alle navrae sal aan Fransie gestuur word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button