Local newsNews

VIDEO: Horison-kleuter se lang pad na herstel amper op ‘n einde

‘Sy eerste paar skoene is nou amper al ‘n realiteit’

 

“Ons is so opgewonde, ons wil al klaar sy eerste paar skoen vir hom laat maak!” het Selona van Aswegen, Nathan Ungerer, 3, se ouma, gesê.

Nathan is net na geboorte met Milroy se Siekte, wat ook as limfedeem bekend staan, gediagnoseer. Sy ouma, Selona van Aswegen het dit so verduidelik. “Dit is ‘n oorerflike siekte wat veroorsaak dat een ledemaat twee keer vinniger as die ander een groei. In Nathan se geval het dit sy linkervoet aangetas, en die dokters het gesê dat die swelling veroorsaak is deur limf wat uit die limfvate lek en dan in die limfselle en ruimte rondom die selle ophoop.”

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2018/03/05/eerste-stappie-op-herstelpad-suksesvolnathan-gee-eerste-tree-op-lang-herstelpad-web/

Nathan het alreeds drie operasies ondergaan, waar die gewas stelselmatig weggesny word. Selona het gesê dat die doker, James van der Merwe, baie tevrede is met die vordering wat gemaak is, en hy het ook bevestig dat die gewas nog nie weer verder gegroei het nie. “Tydens die operasies is ‘n groot gedeelte van die gewas (veral onder die voet) weggesny, en al Nathan se tone is geamputeer. Aan die einde van die behandeling, sal sy voet soos ‘n boksie lyk,” het sy gesê.

Nathan Ungerer se voetjie is al heelwat kleiner.

Selona en Soné van Aswegen (Nathan se ma), kan reeds ‘n groot verskil in Nathan sien, en Selona het verduidelik, “Die voetjie is aansienlik kleiner. Hy loop deesdae baie makliker, want hy hoef nie meer hierdie groot, swaar voet saam te dra nie. Hy dra nog kouse deur die dag, want die voet is baie sensitief, wat beteken dat enige ligte aanraking vir hom bietjie oorweldigend is.”

Sy het bygevoeg dat dit geensins vir Nathan onderkry nie, en hy is baie besig, soos wat dit enige normale driejarige betaam.“Ons het ook nou vir hom ‘n fiets gekry, en hy ry al die hele wêreld vol,” het sy gesê.

Soné het bygevoeg dat sy elke week vir hom vyf pare nuwe kouse koop, “Sy kouse hou net nie, dit is binnne ‘n uur of twee vol gate!”

Nathan se volgende operasie was vir Februarie geskeduleer, maar hy het in Desember verlede jaar ongelukkig ‘n infeksie, wat later as bek-en-klouseer geidentifiseer was, opgedoen. “Sy voet het ongelooflik geswel en was bloedrooi van die infeksie. Ons het met hom hospitaal toe gejaag, waar hulle ongeveer 15ml se vuilgoed gedreineer het,” het Soné verduidelik.

Tydens Nathan se opvolg besoek het dr Van der Merwe bevestig dat die volgende operasie eers in April sal gebeur, aangesien die infeksie nog nie opgeklaar het nie, “Hy het ook bevestig dat daar nog net so twee operasies nodig sal wees, en miskien ‘n veloorplanting, voordat Nathan se voetjie reg sal wees vir daardie eerste paar skoene!” het ‘n opgewonde Selona gesê.

Sy het afgesluit deur elkeen wat ‘n bydrae vir Nathan se behandeling, via die Child Medi Organisasie se rekening, gemaak het, te bedank. “Sonder hierdie finansiële hulp sou ons nie die behandeling vir Nathan kon kry nie. Ons is ongelooflik dankbaar vir elkeen wat hul harte (en beursies) oopgemaak het.”

Om ‘n bydrae vir Nathan te maak, kontak Amor van die Child Medi Organisasie by 062 266 0486, besoek hul webtuiste by https://www.childmedi.org of gaan na die Facebook-blad https://www.facebook.com/childmedi.org/?fref=ts.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button