Local newsNews

Schuster is vreesloos oor die beskerming van die renoster

'Ons wou nie die renoster vir komedie uitbuit nie, daarom is hy die held van die rolprent'

 

Die 67-jarige Leon Schuster beskryf homself as ‘n Vrystaatse boerklong wat net een missie het – om mense te laat lag.

Na 38 jaar doen hy dit steeds.

Hy het verduidelik dat hy altyd probeer om die temas vir sy rolprente so aktueel as moontlik te hou, en dit is ook die geval met sy nuutste rolprent, Frank & Fearless.

“Ons wou ‘n film uit Afrika maak en as gevolg van ons passie vir die renoster, en die feit dat dit ‘n wêreldfenomeen is, het ons die film daarop gebaseer. Dit was ‘n risiko, maar ons het dit baie versigtig hanteer sodat ons nie die renoster – wat ‘n manjifieke reus in die Afrika-koninkryk is – uitbuit vir komedie nie, maar mense aanspoor om ‘n verandering te maak. Dit is ‘n aangrypende storie wat die mense op hul stoele vasgenael sal hou,” het Leon gesê.

Hy het vertel dat die insidente wat in die rolprent gebruik word, slegs fiksie is, en gesê, “Die komedie spruit uit my ervaring met slapstick, en kon netsowel waar gewees het. Ek dink ek verstaan my gehoor en gee vir hulle wat hulle wil hê – ‘n fliek met hart, drama, ‘n goeie storielyn en meer as genoeg laughs om nie teleur te stel nie.”

Soos wat dit maar met enige Leon Schuster-film gaan, was daar ook oorgenoeg insidente agter die skerms. Leon het so vertel, “In een toneel ry ek kaalbas op ‘n fiets. Voor die kameras begin rol, het ons ‘n oefenlopie gedoen. Maar ek het bitter lanklaas fiets gery, en daar verloor ek my balans en beland in ‘n doringbos! Die mediese personeel het ure gesukkel om al die dorings uit te haal, en dit voor die hele bemanning! Dit was eina en ‘n groot verleentheid.”

Leon het bygevoeg dat hy op een stadium in sy volle naakte glorie voor die filmspan gestaan het nadat ‘n skielike rukwind sy seiltjie (waaragter hy verklee het vir ‘n toneel) weggewaai het. “In ‘n ander toneel, waar ek ‘n sjef op ‘n trein is, moes my arm aan die brand wees. Soos die duiwel dit wou hê, het die vlamme regdeur die baadjie en vlambestande lap tot op my vel gebrand. Ek het ‘n erge brandwond opgedoen, wat my die res van my lewe aan daardie insident sal herinner,” het hy gesê.

Hy beskou dit tog maar as deel van sy werk en al het hy al meer klappe weg as ‘n vlieg met ‘n vlieëplak, sal hy dit vir niks anders verruil nie. “Ek het ook darem ‘n paar hoogtepunte in my loopbaan gehad, en die een wat vir my die meeste uitstaan is die 1995-lied, Hie kommie Bokke’. Ek het 350 000 CD’s verkoop, maar die beste herinnering is definitief dat die Bokke die Wêreldbeker gewen het!”

“Ek het in my loopbaan al ‘n paar keer ‘n vuurwapen op my gerig gehad en ek is al deur ‘n jong bokser uitgeslaan, maar my gladde bek (en genade van Bo!) kon my nog altyd uit hierdie situasies kry. Ek het nou pensioenarisstatus bereik en moet my ouderdom respekteer. Ek wil tog nie hê dat daar eendag op my grafsteen moet staan, ‘Schuster kon nie die laaste klap vat nie’,” het hy afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button