Editor's choiceNewsSchoolsUpdate

Boeliedrama – wat die skool sê

Skool handhaaf steeds 'n oopdeurbeleid.

‘n Bom het Dinsdag (9 Oktober) gebars nadat ‘n teenboelieveldtog deur ‘n motorfietsryersgroep, Bikers Against Bullies South Africa (BABSA), by Laerskool Roodekrans talle ouers warm onder die kraag gehad het.

Witwarm opmerkings en oor en weer beskuldigings tussen ouers en ander belanghebbers het die skool genoop om hul kant van die saak te stel. Baie ouers het gereken die saak is verkeerd benader en dat die kollig misplaas was.

Lees die oorspronklike artike hier:

https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2018/10/09/anti-bullying-initiative-causes-controversy/

Die Record plaas die skoolbeheerliggaam se persverklaring verbatim en volledig:

“Laerskool Roodekrans is ‘n waardegedrewe skool. Ons waardes sluit in: respek, integriteit, verantwoordelikheid, eerlikheid en veral omgee vir ander.

“Die skool is nie oorspronklik in kennis gestel van die beplande teenboelie-aksie nie. Die skool het gereageer op die Facebook-advertensie vir die opkoms van die Bikers Against Bullies beweging van 9 Oktober. Binne 24 uur is daar met die betrokke partye vergader en voorgestel dat Laerskool Roodekrans saam met Bikers Against Bullies ‘n veldtog sou loods as deel van die kwartaallikse antiboelieprogram. Ongelukkig kon Bikers Against Bullies nie die betrokke partye in kennis stel dat Laerskool Roodekrans hulle op 15 Oktober kon akkommodeer nie. Die organisasie het dus 9 Oktober voortgegaan,” skryf die bestuursliggaam.

“Dit is betreurenswaardig dat daar soveel negatiewe reaksie deur die proses ontlok is. Dit skep ‘n wanindruk. Boeliegedrag is ‘n probleem van ons tyd, wat aktief deur Laerskool Roodekrans beveg word. Die beste teenvoeter is om ons kinders te bemagtig.

“Laerskool Roodekrans het proaktief opgetree. Prosesse, ondersteuning en beleide soos deur die Departement van Onderwys voorgeskryf, was reeds in plek om ons kinders onder andere teen boeliegedrag te beskerm. Die skool het ‘n skoolondersteuningspan wat bestaan uit ‘n sielkundige, maatskaplikke werker, kinderkinetikus asook psigometris wat in diens van die skool staan met ‘n multi-dissiplinêre span wat verdere ondersteuning bied. Ons antiboelieprogramme sluit in aanbiedings van AfriForum, Emma Sadler, Johan Smit asook ander sprekers wat ouers en die gemeenskap kom bemagtig.

“Die hoof van Laerskool Roodekrans handhaaf steeds, soos altyd, ‘n oopdeurbeleid vir enige ouer, leerder en lid van die gemeenskap en sal aandag gee aan elke saak waarvan hy bewus is. Indien u graag ‘n afspraak met die hoof wil maak is u welkom om die skool te kontak by 011 764 2920.”

Die verklaring is afgesluit met, “Ons hartskinders se beste belange bly ons eerste prioriteit”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button