Editor's choiceLocal newsNews

20 000 redes om te glimlag

'Donasie is 'n simbool van hoop vir 'n goeie jaar'

 

“Toe ek die oproep van Wespack Lifestyle af kry, het ek gedink ek het dalk ‘n prys in hul kompetisie gewen!” het Christo de Klerk glimlaggend gesê.

Hy en sy vrou, Lanie de Klerk, is die stigters van die Baby Moses Sanctuary in Helderkuin, en hulle het onlangs ‘n groot geskenk ontvang. “Ek was eers baie skepties toe Christo my vertel het dat ‘n lid van die gemeenskap ons genomineer het om ‘n R20 000-donasie te ontvang, en almal het ons gemaan om versigtig te wees,” het Lanie gesê.

Christo het bygevoeg dat hy egter geweet het dit is nie ‘n grap nie nadat hy met die vrou van Westpack se hoofkantoor gepraat het. “Hulle het regdeur Desember ‘n kompetisie gehad waarin jy, as jy meer as R250 by enige van hulle winkels spandeer, gekwalifiseer het om ‘n kontantprys te wen. Jy kon ook ‘n liefdadigheidsorganisasie van jou keuse nomineer, wat dan presies dieselfde bedrag ontvang het,” het hy verduidelik.

Lanie het vertel dat sy steeds heel verstom is, want hulle het nog nooit iets gewen nie. “Ons is baie dankbaar teenoor Annerine Laubscher wat ons organisasie genomineer het. Sy bly baie naby aan ons, en sy ry gereeld by ons huis verby. Dit, tesame met die feit dat sy ‘n hart vir kinders het, het haar nie ‘n oomblik laat huiwer om ons te nomineer nie,” het Lanie gesê..

https://www.facebook.com/westpacklifestyle/videos/1820563334629157/

Vir Baby Moses het hierdie donasie op presies die regte tyd gekom. “Ons het dit glad nie verwag nie, wat beteken dit is geld wat ons ontvang het wat nog nie in die begroting ingewerk was nie. Dit kan nou aangewend word om baie ander gate toe te stop,” het Lanie verduidelik.

Sy het bygevoeg dat dit vir haar ‘n simbool van hoop was, en ‘n teken dat 2018 ‘n goeie jaar vir hulle gaan wees. “Verlede jaar hierdie tyd was ons in ‘n situasie waar ons ‘n huis sou moet toemaak, want ons het nie genoeg fondse gehad nie. Ek wil graag Westpack bedank vir hierdie goeie inisiatief waarmee hulle nie net liefdadigheidsorganisasies gehelp nie, maar die publiek kon ook daarby baat. Dankie ook aan Annerine dat sy aan ons gedink het, ons waardeer dit opreg,” het sy gesê.

Lanie het met die volgende woorde afgesluit, “Wanneer so iets gebeur, gee dit vir jou hoop en jy besef dat mense jou harde werk raaksien en erken. Ons kinders het geen ander ondersteuningsnetwerk in die vorm van ‘n ma, pa of ouma nie, en is heeltemal van die gemeenskap se hulp en bystand afhanklik. Hierdie inisiatief het bewys dat Westpack aktief by hulle gemeenskap betrokke is en weet wat nodig is.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button