Editor's choiceLatest SportSport

Judoka sluit jaar op hoë noot af

'Judo is my hele lewe'

 

“Ek was nog nooit spyt oor my sportkeuse nie. Ek geniet nog elke oomblik van my judo-reis,” het Ferdinand van den Heever gesê.

Dié 15-jarige judoka het ‘n baie goeie jaar beleef en die medaljes ingeryg. Hy is een van sensei Katja Bruwer se studente by die KJK Judo Klub in Roodekrans, en is volgens haar ‘n baie harde werker. “Ferdi is ‘n uitblinker omdat hy altyd bereid is om hard te werk. Hy loop ook nie sommer ‘n oefening mis nie, en as ek hom vra om iets by die huis te oefen, doen hy dit. Ek is baie trots op hierdie jong man wat sy passie en liefde vir judo uitleef,” het sy gesê.

Ferdinand van den Heever het vanjaar hoë hoogtes bereik.

Ferdinand het op vyfjarige ouderdom sy eerste ontmoeting met judo gehad en was nog nooit spyt nie. “Ek het die demonstrasieklas in die skoolsaal bygewoon, en het die middag na skool vir my pa gesê, dit is wat ek wil doen,” het hy met ‘n glimlag vertel.

Sedertdien het hy vele prestasies behaal, en het vertel dat die bronsmedalje wat hy tydens die 2016 Statebondspele verower het, definitief vir hom ‘n hoogtepunt was. “Ek onthou dat dit ‘n groot medalje was en ek was so opgewonde!” het Ferdinand vertel. Hy het in 2012 aan sy eerste SA Skolekampioenskappe deelgeneem, en ‘n gouemedalje verower.

Kyeren Bartman (blou pak) word deur Ferdinand van den Heever (wit pak) gegooi. Foto’s: Adéle Bloem

Ferdinand het vertel dat hy van die begin van vanjaar af in ‘n nuwe ouderdomsgroep (15–17) begin meeding het, maar dat dit nietemin vir hom ‘n besonder goeie jaar was waarin hy die volgende prestasies behaal het:

• Tydens die Suid-Afrikaanse Ope Kampioenskappe het hy ‘n sesde plek vir individuele gevegte behaal asook twee silwermedaljes vir kata en spangevegte.

• Hy het aan die Nasionale ranglys-kompetisie vir individuele gevegte deelgeneem en ‘n gouemedalje en ‘n vyfde plek gekry.

• By die Provinsiale ranglys-kompetisie vir individuele gevegte het hy twee gouemedaljes en ‘n bronsmedalje verower.

• Tydens die Grand Slam-kampioenskappe het hy drie gouemedaljes verower.

• Tydens die Provinsiale Katakompetsie asook die Distrik Katakompetisie het hy ‘n silwermedalje verower.

• Hy is tans eerste op die Gautengse en die Wes-Randse ranglys vir judoseuns onder 81 kilogram (groep 4).

• Nadat hy verlede jaar tydens die 2016 Statebondspele sy Suid-Afrikaanse kleure verwerf het, het hy vanjaar ook Wes-Randse kleure verwerf.

• Hy het nie net die gradering vir sy junior swartgordel geslaag nie, maar het ook die hoogste graderingspunte behaal.

“In hierdie sport sal daar altyd iemand wees wat beter is as jy, so jy moet altyd hard werk om te verbeter. Die geheim is om nooit op te gee nie, en altyd op te staan as jy val,” hy gesê.

Yolanda van den Heever, Ferdinand se ma, het bygevoeg dat hulle ongelooflik trots is op Ferdi se prestasies. “Hy werk baie hard en oefen elke dag twee uur lank – behalwe Saterdae en Sondae. Die prestasies wat hy behaal, is sy beloning,” het sy gesê.

Ferdinand van den Heever het vanjaar hoë hoogtes bereik.

Maar, Ferdinand het nie tyd om te rus nie, want hy het reeds die volgende doel voor oë. “Ek sal in Desember hard moet oefen, want ons het ‘n oefenkamp in Januarie en ons eerste proewe vind vroeg in Februarie plaas,” het hy gesê.

Katja het bygevoeg, “Judokas wat aan die proewe deelneem, het die geleentheid om te kwalifiseer vir deelname aan die Statebondspele in Indië. Daar lê ook nog die Afrika-kampioenskappe voor.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button