Editor's choiceNewsSchools

Kunsleerders verstom

Jaarlikse uitstalling 'n groot sukses

“Ek het nie woorde om te beskryf hoe trots ek op elkeen van my leerders is nie. Die uitstalling het al my verwagtinge oortref!” het Bernadene Ross gesê.

Sy is die Visuele Kunste en Ontwerp-onderwyseres by Hoërskool Bastion en kon nie ophou glimlag terwyl sy tussen die leerders se werke deurgestap het nie.

Amoré Rossouw en Monique Botha (Graad 11) met van hul skilderye.

Die jaarlikse kunsuitstalling het op 27 September plaasgevind, en het, soos in die verlede, nie teleurgestel nie.

Die skoolsaal het soos ‘n kunsgalery gelyk met al die sketse, skilderye en ontwerpe. Wat dié uitstalling anders maak, is dat dit die werke van die Graad 10 tot 12 Visuele Kunste en Ontwerp-leerders is.

Simoné Rood (Graad 12) met een van haar skilderye.

“Die uitstalling is elke jaar ‘n groot hoogtepunt – nie net vir die skool nie – maar ook vir my as kunsonderwyser. Dit is hier waar die leerders die geleentheid kry om hul harde werk van die eerste drie kwartale ten toon te stel,” het Bernadene gesê.

Die uitstalling vorm deel van die leerders se sillabus. Moderatore vir die kunstevakke assesseer die skeppings en die punte wat toegeken word, word gebruik om hul jaarpunt te bereken.

Adéle Grimmick (Graad 12) met ‘n uitbeelding van haar grootste vrees.

“Dit voel vir my of die leerders elke jaar net beter word. Dié jaar se uitstalling het al my verwagtinge oortref! Ek het nie woorde om te beskryf hoe trots ek op elkeen van hulle is nie. Tydens hierdie geleentheid besef mens hoe hard elke leerder werk, want in elke kunswerk wat hier uitgestal is, is ‘n stukkie van hul siel,” het sy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button