Editor's choiceNewsSchools

Braaidag met ‘n hop en ‘n skop gevier

Snotkop vermaak terwyl die vure brand

Wat is nou lekkerder vir ‘n Suid-Afrikaner as om ‘n tjoppie op die vuur te braai met ‘n yskoue drankie in die hand?

Om dit saam met familie en vriende te kan doen, natuurlik!

Michael Labuschagné het die konsert baie geniet.

Dit is presies wat die doel van Hoërskool Bastion se Nasionale Braaidag-vieringe was. “Ons reël gewoonlik een fondsinsamelingsprojek per kwartaal, en het besluit om iets te doen om families bymekaar te bring om die dag saam te geniet,” het een van die organiseerders, Elmari van der Vyfer gesê.

Maar, die dag was nie nét vir braai nie, daar was ook ‘n heerlike buitelugkonsert waarin Snotkop opgetree het. “Dit is die eerste buitelugkonsert wat ons skool aanbied, en as ons kyk na die ondersteuning wat ons vandag van die gemeenskap ontvang het, sal dit definitief ‘n instelling word,” het mede-organiseerder, Wesley Pretorius gesê.

Theuns Naudé, Gert Koekemoer (Skoolhoof) en Christo de Jager.

Volgens die organiseerders, het ongeveer 3 000 mense die dag se feestelikhede bygewoon. Elmari het met ‘n groot glimlag vertel dat die mense haar gedwing het om die hekke vroeër oop te maak.

“Dit is geleenthede soos hierdie wat die gemeenskap, en families bymekaar bring. Dit is die tipe byeenkomste wat nou nodiger is as ooit tevore. Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning. Die opkoms het al ons verwagtinge oortref,” het Wesley gesê

Wesley Pretorius, Snotkop en Elmari van der Vyfer.

Francois Henning, of Snotkop soos hy beter bekend staan, was baie opgewonde om by die geleentheid op te tree en het gesê, “Dit is lekker om so baie mense hier te sien. Ek was lanklaas in hierdie geweste, maar ek onthou dit is altyd ‘n groot makietie. Vandag verwag ek ook niks minder nie,” het hy gesê.

Sy verskyning op die verhoog is met ‘n groot gejuig van die gehoor begroet. Die mense het nie net saam hande geklap en gedans nie, maar het ook die lirieke van Snotkop se bekendste treffers uit volle bors saam gesing.

“Alhoewel die dag nie sonder die gemeenskap se ondersteuning suksesvol sou wees nie, bedank ons ook graag vir Buco in Chamdor wat die materiaal vir die verhoog geborg het, mnr Dries Lombaard wat die verhoog gebou het, asook P & P Security wat ‘n wakende oog gehou het,” het Wesley afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button