School sportSport

Roodies se top atlete blink uit by SA’s

Drie van Laerskool Roodekrans se atlete behaal uitsonderlike prestasies tydens SA Kampioenskappe

Harde werk en deursettingsvermoë by Laerskool Roodekrans het vir ‘n suksesvolle atletiekseisoen met vele hoogtepunte gesorg.

Agtien Roodie-atlete het in verskeie items vir die Gauteng Kampioenskappe gekwalifiseer en hulle het definitief hul staal by dié prestige byeenkoms gewys. Drie van hierdie 18 atlete het vir deelname aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gekwalifiseer.

“Al ons atlete was ware ambassadeurs van ons skool en het hul baie goed van hul taak gekwyt. Ons is veral trots op die drie atlete wat aan die SA’s in Potchefstroom deelgeneem het,” het Suzanne Fourie van die skool gesê.

Jordan Binneman, Suené Steenkamp en Amy-Leigh Pretorius het aan aan die SA’s deelgeneem en hul atletiekseisoen op ‘n hoë noot afgesluit.

Jordan Binneman. Foto: Verskaf

Jordan het vir die Gauteng Kampioenskappe gekwalifiseer nadat sy ‘n eerse plek in die 150m en die 100m behaal het. Sy het ook ‘n tienjaaroue rekord in die 150m verbeter. Tydens die Gauteng Kampioenskappe het sy weereens in albei items ‘n eerste plek behaal en vir deelname aan die SA’s gekwalifiseer. “Sy het ‘n gouemedalje in die 150m verwerf met ‘n tyd van 19,50 sekondes en ‘n silwermedalje in die 100m losgehardloop. Jordan was ook deel van die o.12 Gauteng-aflosspan wat ‘n eerste plek behaal het,” het Suzanne gesê.

Suené het by die Distrik Kampioenskappe aan diskus, spiesgooi en gewigstoot deelgeneem en vir die Gauteng Kampioenskappe gekwalifiseer. Daar het sy ‘n derde plek in diskus behaal, en vir die SA’s gekwalifiseer. Sy het baie hard saam met haar afrigter, Marius Swanepoel geoefen en tydens die SA’s het sy haar persoonlike beste afstand tot 27,62m verbeter, wat aan haar ‘n sesde plek besorg het. “Ek wil beslis volgende jaar probeer om in al drie my items vir die SA’s te kwalifiseer,” het Suené gesê.

Amy-Leigh Pretorius. Foto: Verskaf

Amy het vir drie items by die Gauteng Kampioenskappe gekwalifiseer – die 75m- en 200m-hekkies, asook spiesgooi. Tydens die Roodepoort- en D12-kampioenskappe het sy twee spiesgooirekords, asook die 75m-rekord verbeter. Sy het ‘n eerste plek by die Gauteng Kampioenskappe behaal en so haar plek by die SA’s verseker. “Alhoewel sy tydens die SA’s deur ‘n by in die gesig gesteek is, het sy nogtans haar beste gegee en ‘n 10de plek verower,” het Suzanne gesê.

Suzanne het die atlete se ouers, vriende, familielede en afrigters vir al hul hulp en bystand bedank. “Die drie atlete het voorwaar ons skool baie trots gemaak en is waarlik ‘n oulike advertensie vir Laerskool Roodekrans. Ons hou julle atletiekloopbane met valkoë dop,” het sy afgesluit.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites 

Randfontein Herald

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button