Local newsNews

Roodepoort-inwoner is ‘n Mev SA-semifinalis

Alta wil vroue bemagtig

“Om ‘n verskil te maak is nie iets wat ek doen nie, maar wat ek leef.”

So het die 34-jarige Alta Strauss van Roodepoort gesê. Sy is as een van die top 100-semifinaliste in die Mev Suid-Afrika Kompetisie aangewys.

Alta het ‘n passie vir vroue en kinders, en met haar deelname aan hierdie kompetisie wil sy fokus op die bemagtiging van vroue. “Ek wil van die skoonheidsaspek wegbeweeg en op die bemagtiging en inspirasie van vroue en kinders konsentreer,” het sy vertel.

Sy is al 12 jaar met Hein getroud en hulle het ‘n 10-jarige dogter, Esteé. Alta se gesin is vir haar baie belangrik en sy het vertel dat hulle altyd alles as ‘n span aanpak en doen. “My gesin bied vir my ‘n baie sterk ondersteuningsraamwerk en ons is altyd daar vir mekaar. Ek glo as jy ‘n gesonde huishouding het, het jy ‘n gesonde lewe,” het sy gesê.

Alta Strauss is ‘n Mev SA-semifinalis. Foto: Adéle Bloem

Alta en Hein het hul eie bediening – Word for the World Ministries – en is aktief betrokke in gemeenskappe van Westbury, Zandspruit en Cosmo City. “Ons identifiseer areas waar daar groot nood is en probeer om ‘n verskil te maak. Ons deel geskenke uit, gee komberse in die winter en nog vele meer. Ons werk baie nou saam met die gemeenskap en die leiers om hulle te bemagtig om vir hulself te kan sorg. Sodoende verseker jy dat die hulp volhoubaar is,” het sy met ‘n groot glimlag vertel.

Die uitreikaksies wat hulle behartig is ‘n passie vir elkeen in die gesin. “Ek en my man is al vir ‘n geruime tyd saam besig met die uitreikaktiwiteite, en my dogtertjie het ook nou betrokke geraak. Sy gaan vakansietye saam met ons om benodigdhede uit te deel. Ek glo dat dit vir haar ‘n baie goeie voorbeeld stel om te besef jy is nie alleen in jou eie klein wêreld nie,” het Alta gesê.

Vir Alta is die Mev Suid-Afrika-platform die perfekte geleentheid om jou horison te verbreed en meer lewens te bereik. “Ek doen reeds alles wat van ‘n finalis vereis word en, sou ek die geleentheid kry om verder in die kompetisie te gaan, sal ek nie iets anders doen nie, ek sal net die geleentheid kry om dit op ‘n groter skaal te doen,” het sy gesê.

Haar boodskap aan elke vrou is die volgende, “Wees net jouself, niemand kan ‘n beter jy wees as jy nie. Moenie probeer om dieselfde as almal anders te wees nie. Dit is jou uniekheid wat jou laat uitstaan en as jy met jou hele hart glo jy kan, dan sal jy kan.”

Die Mev Suid-Afrika gala-aand is op 28 April by Emperors Palace waartydens die top 25-finaliste aangewys gaan word. Alta hoop dat sy die kans sal kry om haar passie verder uit te leef. “Ek is nie besonders nie, ek is ‘n vrou en ‘n mamma wat graag ander mense wil inspireer – enigeen kan dit doen. Dit is nie nét ‘n skoonheidskompetisie nie, maar vir my is dit ‘n kans om mense se lewens te verander,” het sy afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Related Articles

Back to top button