NewsSchools

Roodies vereer hul maestro

Fanie van Vuuren-gedenkplaat onthul by Hoërskool Roodepoort

“Baie dankie vir alles wat meneer vir elkeen – en ook vir my – beteken het. Dit sal altyd onthou word. Geniet die permanente vakansie!”

Fanie van Vuuren het sy laaste saalbegeleiding behartig. Foto’s: Adéle Bloem

So het Hoërskool Roodepoort se hoofdogter, Inge du Plessis in haar boodskap aan Fanie van Vuuren gesê toe die skool met ‘n spesiale gedenkdiens vir Fanie gegroet het aangesien hy na bykans 36 jaar van skoolhou gaan aftree.

Die oggend se verrigtinge het begin met ‘n prag vertolking van die lied Hallelujah deur die skoolkoor. Daarna het Fanie die geleentheid gekry om vir die laaste keer sy plek agter die klavier in te neem, en die gewyde sang te begelei.

Johan van Jaarsveldt en Fanie van Vuuren met die portret wat in die klein teater gaan hang.

Dominee Johan Vermeulen het ‘n boodskap gebring wat by die dag se verrigtinge aangesluit het. Hy het gesê dat die gedenkteken en vernoeming van die klein teater nie gedoen is omdat Fanie belangrik gelyk het nie, maar omdat hy vir jare iets met liefde en toewyding vir ander gedoen het. “Dis nie net om jou as mens te onthou nie, maar ook dit wat jy gedoen het,” het hy gesê.

Die verrigtinge het ‘n item deur die musiekdepartement se Yolanda Mapson ingesluit asook ‘n boodskap van die beheerliggaamvoorsitter. Voordat Fanie die gedenkplaat onthul het, het die Graad 12-leerders en gaste met die Onse Vader en Skoollied afgesluit.

Johan van Jaarsveldt en Fanie van Vuuren net voor die gedenkplaat onthul is.

Johan van Jaarsveldt, die skoolhoof, het gesê deur dié gebaar word aan Fanie erkenning gegee vir die diep spore wat hy veral in die musiekwêreld getrap het. “Ons sê dankie vir die kore wat hy afgerig het, die saalopening waartydens hy klavier gespeel het, funksies wat hy gereël het en ook die feit dat hy altyd die leerders met menswaardigheid behandel het. Ons hoop dat hy lekker sal rus en dat sy droom om te toer bewaarheid sal word,” het hy gesê.

Fanie het gesê dat hy eers ‘n lang vakansie in die Kaap gaan hou en lekker uitrus. “Ek wil graag my rekenaargeletterdheid opskerp, meer tyd in my tuin spandeer en weer aktief begin klavier speel en optredes doen. Ek sal dalk later weer deeltyds begin klasgee, maar ek wil eers alles doen waarvoor ek nie altyd die kans gekry het nie,” het met ‘n groot glimlag vertel.

Vir meer fotos kliek hier.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button