NewsSchools

Kruiner-koor verwelkom talentvolle nuwe afrigter

Schalk van der Merwe is slaggereed om koorlede af te rig

Laerskool Helderkruin se junior- en seniorkore het verlede jaar met hul deelname aan die kykNET Sing in Harmonie-kompetisie die jaar op ‘n hoë noot afgesluit. Hulle beplan om in 2017 nog hoër hoogtes te bereik.

Schalk van der Merwe, 26, is onlangs as die nuwe afrigter en dirigent vir beide kore aangestel en hy beplan groot en opwindende dinge vir hulle.

Hy het BMus by die Universiteit van Pretoria studeer en in 2011 gegradueer. Hy is tans besig met sy meestersgraad in musiek en het al by verskeie geleenthede as dirigent opgetree. Hy het op 23-jarige ouderdom reeds sy eerste vol opera as dirigent behartig en was die dirigent by ongeveer 10 ander operas die afgelope jaar.

Vir Schalk is musiek ‘n baie belangrike kunsvorm en hy het vertel dat hy nog altyd baie lief was daarvoor. “Dit was nog altyd ‘n passie vir my en ek het in verskeie orkeste viool gespeel. Ek het ook in verskeie kore gesing voordat ek musiek gaan studeer het,” het hy gesê.

Hy wil graag, nadat hy sy meestersgraad in musiek voltooi het, verder studeer en ‘n doktorsgraad in uitvoerende kunste behaal. Hy beplan ook om verdere studie te doen in klassieke stemafrigting, viool en klavier.

“Ek beoog om – as musiekonderwyser – my kennis met die leerders te deel. Ek glo dat ek as dirigent en koorafrigter baie individue kan beïnvloed en bewys dat enige doelwitte deur harde werk en met spanwerk bereik kan word,” het hy afgesluit.

Die hoof en personeel van Laerskool Helderkruin is baie opgewonde om vir Schalk by die Kruiner-familie te verwelkom en glo dat hulle ‘n lang en voorspoedige werksverhouding sal hê en dat hy net die beste in hul koorlede na vore sal bring.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button