Editor's choiceLocal newsNews

Engele bestaan werklik

Die paartjie het twee maande lank in hul kar in 'n begraafplaas in Krugersdorp gebly.

Werkloos, ‘n stukkende motor en drie honde … maar hulle het darem vir mekaar. Dit is wat twee harte aan die klop gehou het.

Laurence en Elmien de Jong is nie meer vandag se kinders nie. Hulle word albei geskat as diep in hul 50’s. Laurence het voorheen in Kimberley as ‘n trokbestuurder gewerk, maar het ‘n paar maande gelede sy werk verloor. Hy het wel ‘n kode 14-rybewys, maar sukkel om werk te kry. Die paartjie het toe besluit om alles wat hulle besit op te pak en Johannesburg toe te kom.

Elmien en haar Jack Russel op pad na hul nuwe lewe.
Elmien en haar Jack Russel op pad na hul nuwe lewe.

Dinge het nie dadelik volgens plan verloop nie en die twee het toe by die Sasol-vulstasie in Ruimsig beland waar hulle motor gebreek het en hulle vir vier dae lank om hulp gewag het.

Op Saterdagoggend, 8 Januarie het Lané Hepburn, ‘n inwoner van Krugersdorp, ‘n boodskap op ‘n Facebook-blad gesien oor die paartjie en hul penarie. Daarin is die gemeenskap om hulp vir die twee hawelose mense gevra. Min het Lané geweet dat sy die volgende oggend as ‘n heldin sou opstaan.

“Hulle het twee maande lank in hul kar in ‘n begraafplaas in Krugersdorp gebly,” het Lané vertel.

Mense uit die gemeenskap het hul hulp aangebied om die paartjie se kar reg te maak.
Mense uit die gemeenskap het hul hulp aangebied om die paartjie se kar reg te maak.

Volgens Lané het sy en haar man besluit om te gaan kyk hoe hulle die twee mense kon help. Laurence en Elmien se positiwiteit het Lané se hart vir hulle laat oopgaan.

“Laurence het aanhoudend gesê dat dit net ‘n tydelike oplossing vir hulle is en dat alles sal regkom,” het Lané gesê.

Die twee het drie honde by hulle gehad wat hulle nie wou agterlaat nie. Volgens Lané was die honde goed versorg en skoon. Lané het aan die News vertel dat die eienaar van die vulstasie die De Jongs toestemming gegee het om hul geriewe te gebruik, wat ‘n daaglikse stort ingesluit het. Al voorwaarde was dat hulle nie op die perseel mag bedel nie.

Lané het ‘n Facebook-boodskap uitgestuur en dit het soos ‘n veldbrand versprei. Die gemeenskap het in hul massas hulp aangebied en verskeie mense het aangebied om hul motor reg te maak. Lané het ook blyplek vir hulle in Randfontein gekry waar die mense hulle met ope arms ontvang het.

Volgens Lané het die twee mense ‘n dogter, maar hulle wil nie oor haar praat nie. Sy is onbewus van enige ander familielede.

'n Motorselfie; Laurence en Elmien (agter) op pad na hulle nuwe tuiste saam met Lané en haar man.
‘n Motorselfie; Laurence en Elmien (agter) op pad na hulle nuwe tuiste saam met Lané en haar man.

“Dit maak my hart so bly om te sien dat daar wel mense is wat hulle harte oopmaak teenoor ander,” het ‘n dankbare Lané gesê.

Die gemeenskap se hulp is egter steeds nodig omdat die twee mense feitlik niks het nie. Enigiemand wat ‘n donasie wil maak, hetsy geld of goedere, kan vir Lané skakel by 079 886 6010.

Lees ook

Plaaslike bejaardes vra VF om hulp

Gemeenskap se hulp benodig vir klein vegtertjie

 

Related Articles

Back to top button