Editor's choiceNewsSchools

Kruiners bly kalm en gaan op safari

Laerskool Helderkruin het hul jaarlikse feesdag gehou

Massas mense het opgedaag om die heerlike sonskyndag by die OppiKruin Fees te geniet wat die afgelope Saterdag (27 Augustus) deur Laerskool Helderkruin aangebied is.

Dié fees is reeds die Vrydagaand afgeskop met ‘n pretloop en musiekkonsert. Die feestelikheid is die Saterdag voortgesit met verskeie stalletjies, baie eetgoed, vermaak, springkastele en heelwat pretaktiwiteite vir die kinders én volwassenes.

Africa Road Events was die hoofborg van die feesdag en het gesorg dat daar musiek en vermaak is. Hulle het ook gereël dat Mufasa (die Goue Leeus Rugby Unie se gelukbringer) die geleentheid bywoon.

Wirulink het gesorg dat die feesgangers die gerief van gratis WiFi vir die dag kon geniet.

Die Johannesburgse Metropolisie, brandweer, Vasco da Gama (Speaker van die Stad van Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit) en Lid van die Uitvoerende Raad vir Openbare Veiligheid, Michael Sun het ook die geleentheid bygewoon.

Die jaarlikse feesdag is die skool se geldinsamelingsprojek, maar vanjaar het hulle nie net vir die skool geld ingesamel nie, maar ook vir die Care for Wild-organisasie, wat hulle daarvoor beywer om renosterwesies te beskerm.

“Ons het besluit om hierdie jaar ook terug te gee aan die gemeenskap en nie al die geld vir die skool te gebruik nie. Ons gaan ‘n gedeelte aan Care for Wild skenk. Ons het ook ‘n draadrenoster wat opgeveil gaan word, en al dié geld sal ook aan hulle geskenk word,” het Hanli-Mari Olivier, die skool se skakelbeampte gesê.

Omdat Africa Road Events die dag se hoofborg was en hulle op padveiligheid gekonsentreer, het die skool besluit om ‘n bewaringstema vir die dag te kies. Die organisasie se hoofdoel is om bewusmakingsveldtogte aan te bied om die fokus op die belangrikheid van padveiligheid te plaas.

Iron Horse Road Safety het by die tema aangesluit met die Think Bike-veldtog.

“Ons het heelweek verskillende aktiwiteite vir die kinders gehad om die belangrikheid van natuurbewaring, wat hand aan hand met padveiligheid gaan, onder hul aandag te bring.

Ons moet nie net op die uitkyk vir motors of motorfietse wees nie, maar ook vir diere wat ook ons medepadgebruikers is. As ons nie ‘n bewustheid onder ons kinders kweek nie gaan hulle kinders nie weet wat ‘n renoster is nie. Dit is die bewaring van ons erfenis, het Hanli-Mari gesê.

Daar is ‘n blikkie in die snoepie waar elkeen sy kleingeld reg deur die jaar kan ingooi. Die geld sal aan die einde van die jaar aan Care for Wild geskenk word.

“Ons as skool kan nie net op ons eie funksioneer nie, maar moet hande vat en met die wyer gemeenskap saamwerk. Dit is die enigste manier waarop ons hierdie boodskap kan oordra,” het Hanli-Mari afgesluit.

Vir meer fotos kliek hier.

https://www.youtube.com/watch?v=FtRRj_CqI_g&feature=youtu.be.

Related Articles

Back to top button