CrimeNews

“My broer is koelbloedig vermoor”

'n Hartseer einde aan die lewe van 'n ware Samaritaan, sê sy broer oor die N1 raaisel.

Dis asof sy moord maar ‘n bysaak is in die raaisel oor die N1-skietery van verlede maand.

Dit is hoe die vermoorde se broer, Armand de Vries, 30, dit ervaar. Hennie, 34, het blykbaar daar stilgehou om te kyk of hy kon help. Vroegaand 17 Maart het lede van die Maraisburg- en Delarey-gemeenskapspolisieringsforum (GPF) gereageer op die nuus dat ‘n motor aan die brand was op die N1 naby die Maraisburg-afrit.

Op die toneel het hulle ‘n brandende motor en Hennie de Vries se lyk in sy wit Bantam-bakkie, met vier koeëlgate deur die voorruit aangetref. Die bakkie was voor die brandende Fiat 500 geparkeer. Eers nadat die vuur geblus is, het lede van die brandweer die koeëlgate in die bestuurder se deur gesien. ‘n Ouer man se lyk is in die Fiat gevind. Op 19 Maart het The Star berig dat die moordenaar/s die ander man, ‘n voormalige polisielid by name Sam Moloto, 58, ingewag het en verskeie kere geskiet het. Dit is nie seker of hy aan sy skietwonde of in die brand wat sy moordenaars gestig het, gesterf het nie. Die polisie ondersoek ‘n dubbele moordsaak.

Armand meen sy broer was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Hy is vermoedelik doodgeskiet nadat hy op die moordtoneel aangekom het wat die vermeende moordenaars probeer ‘skoonmaak’ het deur die Fiat aan die brand te steek. Hennie het drie skietwonde in die bors en een in die kop gehad.

“My boetie was ‘n baie goeie mens,” vertel Armand in sy woonstel in Groblerpark.

Sy oë raak wasig en hy is duidelik dankbaar oor die bystand van sy verloofde Tessa en ‘n nabye vriend gedurende sy onderhoud met die Record.

“Hy was barmhartig en behulpsaam,” sê die 30-jarige van sy ouer broer wat broeikastenks gebou het.

“Hy was op pad terug huis toe in Witpoortjie nadat hy sy baas met sy voertuig gehelp het.

“Hennie was lief vir voertuie en om hulle op te bou; hy was ‘n ware grease monkey wat altyd met sy hande gewerk het.

“Soos ek my broer ken, het hy daar gestop om te kyk of hy die ander man kan help,” het Armand hartseer gesê.

Hy glimlag nostalgies.

“Ek het hom wel nie gereeld gesien nie, maar ons het altyd oor die foon gepraat – hy was ‘n deskundige as dit kom by rekenaarspeletjies en het my altyd advies gegee.”

Armand vertel hy wou na sy broer gaan kyk toe sy oorskot na Martins in Roodepoort vanaf die Johannesburgse lykshuis geskuif is.

Hendrik Petrus Ferdinandus de Vries, oftewel Hennie, is op 16 September 1981 gebore en het aan disleksie gely. Hy was in Laerskool Witpoortjie (nou Roodebeeck) en in Lantern Skool en in Delta Park. Hy is op 23 Februarie 2007 met Cindy getroud en Armand was hulle strooijonker.

“Sy rampartytjie was een van ons beste tye saam,” het Armand gesê.

“Ek gaan sy bystand baie mis.”

Tessa het vertel dat Hennie altyd “sy boetie beskerm het en geen vrese gehad het nie”.

Sy begrafnisdiens is in AGS Culembeeck op 26 Maart gehou. Daarna is Hennie se as in Fourways Memorial geplaas. Hy word oorleef deur sy ouers Lettie en Hennie, sy vrou Cindy en sy broer Armand.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button