NewsSchoolsUpdate

Kwashale en kuns by Hoërskool Bastion

Die kunsleerlinge hou 'n praguitstalling in die skoolsaal.

Palette, skilderdoeke en kwashale deur die loop van die jaar het dit vir kunsleerlinge moontlik gemaak om ‘n uitstalling by Hoërskool Bastion te hou.

Die leerlinge het onder leiding van hul gunsteling kunsjuffrou Bernadine Ross hul kunsstyle ontwikkel en hul beste werke was Dinsdag 30 September by die opening van die kunsuitstalling in die skoolsaal te sien. Ouers, vriende en die publiek kon vir twee dae lank hul talent daar gaan waardeer.

Deurlopende temas soos Verkiesingsdag 2014, Jurassic Park en Herwinbaarheid is gevolg, maar die kinders se eie belangstellings en nuuskierigheid was ook in hul werk sigbaar. Leerlinge uit die Visuele Kuns- en die Ontwerpklas kon aan die uitstalling deelneem. Skilderye, sketse in potlood, kleurpotlood en houtskool, klere-ontwerpstukke, embleemontwerpe, industriële ontwerpe en selfs installasiekuns was te sien.

Elke leerling het hul eie belangstellings in die kunswêreld sowel as hul inspirasie met die record gedeel.

“Ek is mal oor skets,” sê matriekleerling Lereza Basson. “Ek is op my gelukkigste met ‘n ordentlike potlood in my hand.”

Vir Jeandré Jacobs, ook ‘n matriekleerling, is dit lekker om religie in sy werk te ondersoek.

“Mense mag dalk dink my werk lyk soms ‘n bietjie donker maar ek geniet dit om ‘n alternatiewe perspektief te gee.

“Dit is vir my belangrik om my verwysingsraamwerk uit te brei.”

Deon van der Merwe, nog ‘n matriekleerling, het ‘n sterk politieke opinie wat hy met mening uitgedruk het in sy installasiewerk getiteld Pyn in die g*t.

Vir party leerlinge is dit duidelik ‘n loopbaankeuse terwyl ander nog wik en weeg, of net die vak vir die uitdaging daarvan aangepak het. Wat wel seker is, is dat die gehalte van Bastion-leerlinge se kunswerke verbeter met elke projek wat aangepak word.

Related Articles

Back to top button