CrimeNews

Kriminele teiken ouetehuispersoneel

Booswigte slaan toe in donker.

‘n Vlaag aanvalle teen personeellede van Ons Huis tehuis vir bejaardes toon net weereens hoe lafhartig die gemiddelde misdadiger is.

Volgens bestuurder Marita van den Berg het die voorvalle ongeveer drie maande gelede begin. Aangesien die personeel by die tehuis skofte van 6vm to 6nm werk, moet hulle in die donker die ongeveer ses blokke van en na Florida Stasie stap.

Die misdadigers, glo twee mans in ‘n wit Toyota Corolla met registrasienommer RCL 899 GP, wag op die hoek van Madeline- en Weststraat aangesien daar nie werkend straatligte op die hoek is nie. Van den Berg sê dat die mans soms met messe en vuurwapens gewapen was. Hulle oorval die werkers, ruk hulle rond en neem enige los besittings soos handsakke, beursies en selfone af voor hulle weer in hulle motor verdwyn.

In ‘n stadium het Ons Huis se sekuriteitsmaatskappy ‘n motor gestuur om die straat te patrolleer en het die aanvalle gestop. Ongelukkig was daar weer ‘n voorval twee Sondae (10 Augustus) terug.

Van den Berg sê dat die polisie huiwerig was om ‘n saak te open want hulle voer aan dat hulle die reeksnommer van die gesteelde selfoon nodig het. Sy sê dat sy al die aanvalle onder die polisie se aandag gebring het maar dat hulle nie oorgretig was om werk daarvan te maak nie.

“Die probleem is dat my personeel met swak oumensies moet werk maar gewoonlik na so ‘n aanval so getraumatiseer is dat hulle nie kan konsentreer en hulle beste lewer nie. Hoewel die personeel direk benadeel word, word ook die ou mense indirek benadeel,” sê Van den Berg.

Related Articles

Back to top button