School sportSportUpdate

Blou Masjien stoom voort na Goue Lees-titel

Roodies ‘n tree nader aan titel vir klein skole na Bracken High-sege.

Die eersterugbyspan van Hoërskool Roodepoort is ‘n tree nader om die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) se trofee vir klein skole omhoog te hou na sy wegholsege van 38-3 oor Bracken High.

Roodies, die gasheerskool van ses GLRU-kwarteindstryde was weereens op hul tone en het gewys hulle is die span om te klop. Hulle opponent wat van Alberton af gereis het, kon slegs met drie puntjies antwoord nadat hulle, kan jy glo, drie minute nadat die wedstryd begin het, nogal voorgeloop het – maar dit was al.

Roodies het daarna drie drieë gedruk om teen halftyd met 19-3 voor te loop. Die tuisspan het sy telling in die tweede helfte verdubbel deur nog drie puik drieë af te rond en welverdiend na die halfeindrondte oor vier dae deur te dring.

Roodies se afrigter, Louw Parsons het groot lof vir sy span gehad, asook die opponente.

“Die telling sê nie regtig hoe hard die wedstryd was nie. Dit was ‘n tipiese uitspeelwedstryd met Bracken High wat 200 persent gegee het. Ek is baie bly dat ons net by die spelpatroon en strukture gebly het,” het Parsons gesê.

Maar die sege het nie nie sonder ‘n prys gekom nie. Twee gereelde spelers naamlik die losskakel, Michael Rae (knie) en slot, Andrew Volschenk (skouer) sal minstens twee weke buite aksie wees.

Die groter prentjie is nietemin dat Roodies beslis die gunsteling is om die titel te wen.

‘n Week tevore het hy 25 drieë gedruk om Florida Park High (Parkies) met 152-0 af te slag. Roodies het teen halftyd reeds met 99-0 voorgeloop en sy opponente laat wonder of hulle dit ooit weer op ‘n rugbyveld moet waag. Die wedstryd is boonop beëindig 15 minute voor die eindfluitjie sou blaas.

“Alles het vir ons uitgewerk en niks het verkeerd gegaan nie,” het Parsons bygevoeg.

Die groot toets nou vir Roodies is of hulle die goeie vertoning kan volhou.

Hulle pak eerskomende Saterdag 21 Junie vir Afrikaans Hoër Germiston in die een halfeindstryd op ‘n neutrale veld (Hoërskool President) terwyl Allen Glen en Alberton High in die ander halfeindstryd sal swaarde kruis.

Roodies se o.16’s is reeds outomaties deur na die halfeindstryd nadat Afrikaans Hoër Germiston onttrek het.

Ander uitslae op Roodies se velde tydens die GLRU-kwarteindstryde:

• o.14A Nic Diederichs 17-46 Queens

• o.14A Allen Glen 27-5 Bracken High

• o.15A Carlton Jones 29-26 Bracken High

• o.16A Nic Diederichs 31-28 Vorentoe

• 1ste span Allen Glen 32-30 Queens

• 1ste span Roodies 38-3 Bracken High

Roodie-puntemakers teen Bracken High:

• Drieë: Andre Louw (2), Clinton Louw (2), Christiano Arends (1) en Jermain Johnston (1)

• Doelskoppe: Clinton Louw (3) en Christiano Arends (1)

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button