Latest SportSport

Sestig van atletiekklub pak Comrades

Klub hardloop ook hul 42ste Comrades in 2014.

Roodepoort Atletiekklub het bevestig dat 60 van hulle lede dapper genoeg is om vanjaar se taai Comrades Marathon op 1 Junie in KwaZulu-Natal aan te pak.

Om dié lede almal sterkte toe te wens is ‘n gesellige en tradisionele Comrades-braai die afgelope naweek by die klub gehou.

Die oudste deelnemer van die klub is Mayla Pieterse, 57, wat haar 24ste Comrades gaan aandurf terwyl die jongste lid wat sy eerste Comrades gaan aanpak die 27-jarige Francois Sieberhagen is. Stephan Bothma, 44, is die mees ervare lid en durf sy 26ste Comrades aan.

Daar is altesaam vyf groentjies wat hul eerste marathon agter die blad sal wil kry. Hulle is Haley Ryan, Cecile van Niekerk, Shaineeze Joseph, Aldi Writes en Sieberhagen.

Die lede wat vir groen nommers (10de Comrades) sal hardloop is André Posthumus en Wessel Kritzinger.

Posthumus en sy vrou Bonnie is die enigste egpaar van die klub wat vanjaar se Comrades by die horings gaan pak.

Die Oliver-tweelingbroers Desmond en Derrick gaan ook deelneem.

“Roodepoort Atletiekklub bestaan alreeds 41 jaar en het oor die jare menige Comrades-atlete opgelewer,” sê die klub se woordvoerder Vincent Meyer.

“Ons hou jaarliks die Comrades-braai waartydens ons die atlete aanspoor om hulle beste te lewer.

“Vir die groentjies gaan dit die eerste keer wees dat hulle op een dag so ver hardloop. Hulle is versigtig optimisties oor hulle kanse om klaar te maak en kan nie meer wag vir die groot dag waarop Chariots of Fire gaan speel en skote gaan klap nie. Ons wens elke lid sterkte toe, veral met groot opdraandes en moeilike gedeeltes soos Umkomaas, Inchanga, Bothas Hill en Cowies Hill . Ons weet dat julle baie goed sal doen,” sluit Vincent af.

Die Roodepoort Atletiekklub is reeds 10 jaar in Moutonstraat by die Ampie Barnard-tennisbane. Voorheen was hulle 10 jaar by Cecil Payne-sportterrein en toe vyf jaar lank by Florida-meer.

• Navrae: Charlie Herselman by 082 770 1143.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button