Latest SportSport

Hengel: “Dis jy teen Moeder Natuur”

Die record probeer verstaan hoe 'n hengelaar dink.

Daar is glo meer aan hengel as om net ‘n kookwater-muti aan te maak, jou vislyn in te gooi, te wag en dan te hoop vir die beste.

En wie anders kan mens oor dié sport uitvra as Arthur Tee, ‘n gesoute hengelaar wat reeds 10 jaar lank lid van die Roodepoort Hengelklub is? Hy het aan die record verduidelik hoe hengelaars se koppe werk.

Nommer een, mens moet glo baie geduld hê. Nommer twee, dit is ‘n duur sport en mens moet gewillig wees om jou sak te skud. Nommer drie, die passie moet 100 persent daar wees en nommer vyf, jy moet ‘n storie kan vertel.

Arthur beskryf ‘n hengelaar as iemand wat passievol en so lief vir hengel is dat as daar net ‘n gaatjie vol water in die pad is met ‘n vis daarin, dan sal die persoon hengel.

“As hy jou het, los hy jou nie.”

Arthur sê nes met gholf moet henglaars ook diep in hul beursies grawe.

“My uitrusting jaag my al ongeveer R250 000 uit die sak maar omdat hengel my passie is, sal ek tot ‘n halfmiljoen daarvoor betaal.”

Hy sê verder hengelaars is groot familie-mense.

“Ons nooi gereeld die gesin uit om saam met ons by die aksie betrokke te wees.

“Hengelaars moet verder ook ‘n storie kan vertel, want dit kan lank duur voordat daardie outjie in die water byt. Dit gaan ook oor die kameraadskap en passie wat elkeen van ons deel. Laastens moet ‘n hengelaar die natuur liefhê en die kleiner dinge in die lewe waardeer en geniet.”

Natuurlik is die uiteindelike doel en bevrediging van hengel om die groter vis as jou eweknieë te vang en daaroor te spog.

“Terselfertyd is dit ook jy as hengelaar teen Moeder Natuur,” het Arthur bygevoeg.

“En wanneer die vis gevang word, moet die vis met respek behandel word. Die dam en die gebied daar rondom moet bewaar word. Ons almal daag naweke by die meer op om visse te vang maar ook om dit te bewaar. Ons vat die visse nie huis toe nie, ons vang hulle, weeg hulle en laat hul op die regte manier weer gaan. Daar is reëls wat elke hengelaar moet volg om te verhoed dat hierdie visse uitsterf.”

Soos enige ander sportsoort het hengel ook sy beserings.

“Ons hengel – of dit hael, reën en of die wind waai. Mens moet dit maar gewoond raak. Behalwe die natuurlike elemente is daar ander uitdagings wat ons in die gesig staar.”

Volgens Arthur is ‘n hengelaar se veiligheid, die onwettige hengelaars by die dam en ongewenste afval ‘n paar van daardie uitdagings.

Om hierdie probleme hok te slaan het Dave Favel, sekretaris van die Roodepoort Hengelklub gesê, “Die dam is omring deur heinings met net hier en daar ‘n opening wat die lede beoog om self reg te maak. Wat die onwettige hengel aanbetref vra ons dat elke passievolle hengelaar eerder die regte ding doen en by ons sal aansluit. Ons asook die roeiklub probeer om die dam sover moontlik skoon te hou en te verseker dat afval weekliks uitgehaal word.”

Favel het afgesluit deur te sê, “Ons het uiteindelik almal dieselfde passie. Die Florida-meer is ‘n juweel en ons wil dit so hou vir toekomstige hengelaars met dieselfde passie.”

Om by die klub aan te sluit skakel vir John by 082 492 1615 of besoek die klub se webwerf by www.roodepoortanglingclub.wozaonline.co.za.

John Sweetland met 'n vis van 11,44kg wat hy tydens 'n onlangse klubkompetisie by Florida-meer uitgetrek het.
John Sweetland met ‘n vis van 11,44kg wat hy tydens ‘n onlangse klubkompetisie by Florida-meer uitgetrek het.
John kyk hoe die 11,44kg vis wegswem nadat hy hom gevang en geweeg het.
John kyk hoe die 11,44kg vis wegswem nadat hy hom gevang en geweeg het.
Junior Shehkira Guerini van die Roodepoort Hengelklub in aksie.
Junior Shehkira Guerini van die Roodepoort Hengelklub in aksie.
Hier smeer Shehkira Guerini en Ellouise Germishuys, twee juniors van die Roodepoort Hengelklub grondboontjiebotter aan die vishoek.
Hier smeer Shehkira Guerini en Ellouise Germishuys, twee juniors van die Roodepoort Hengelklub grondboontjiebotter aan die vishoek.

Related Articles

One Comment

  1. Ek hou hiervan!Dit is nie allerdag dat jy vars water hengel stories in die koerant kry nie. Dit moet gereeld gebeur!Dankie.

Check Also
Close
Back to top button