Local newsNewsUpdate

Ruimsig se Armand dalk die volgende Mnr SA

Sy veldtog sluit familie- en kinderregte in, en Armand is nie bang vir uitval nie.

Armand du Plessis (25) beoog om die Wes-Rand en spesifiek Roodepoort se eerste Meneer Suid-Afrika te wees.

Hy het in Krugersdorp skoolgegaan en sy liefde vir die Wes-Rand was duidelik toe die Record op Donderdag 3 April ‘n onderhoud met hom gevoer het.

“Ek wil Roodepoort trots maak op my en ek wil ‘n voorbeeld stel vir ander plaaslike jong mans wat graag in sulke kompetisies wil meeding.

“Ek is seker ek is nie die enigste plaaslike man wat sy gemeenskap met passie dien nie,” het gesê.
Buite kompetisieverband het hy al vir ‘n modelagentskap in Pretoria modelwerk gedoen.

Du Plessis bly al vir sowat 20 jaar in Ruimsig en is besig om sy LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria te voltooi. Dit is sy finale jaar en hy hoop om in familie- en kinderreg te spesialiseer.

“My pa is ook ‘n prokureur aan die Wes-Rand,” het hy gesê.

“Ek wil graag vir kinders veg sodat hulle kan kry waarop hulle geregtig is.”

Dit is Armand se siening dat skeisake gereeld die kind of kinders se geluk belemmer en hy het dus verhoudinge deel van sy veldtog vir Meneer Suid-Afrika gemaak. Vir sy fondsinsamelingsgeleentheid in Maart het hy gereël dat ‘n gesiene seksoloog sy gehoor toespreek.

“Ek voel dat ‘n gesonde familie afhang van ‘n gesonde verhouding tussen die ouers – die seksoloog het mense se aandag weer gevestig op hul eie verhoudings met hul wederhelftes.

“Ek self het daardie aand ‘n boodskap gekry – ek is nou wel nie getroud nie en ek het ook nie kinders nie, maar my toekomstige lewensmaat sal dit waardeer dat ek al klaar na ons belange omsien.”

Armand is dankbaar vir die ondersteuning wat hy tot dusver van die gemeenskap ontvang het. Hy is in 2008 as Meneer Krugersdorp gekroon en daarna as Meneer Roodepoort in 2010.

Na afloop van al die kandidate in die Meneer Suid-Afrika-kompetisie se fondinsamelingsprojekte teen einde April sal die getal kandidate tot 50 verminder word. In Mei, nadat kandidate nogmaals suksesvolle fondinsamelings moes hou, sal hulle weer tot 25 verminder word. In Junie sal die 25 kandidate aan ‘n realiteitsprogram deelneem waar hulle tot 12 verminder sal word. Hierdie 12 se name sal in Julie aangekondig word. Hy sluit nie die moontliheid uit dat hy kan uitval nie.

“Ek glo die realiteitsprogram gaan eers in Augustus op TV wees,” het Armand gesê, “en eers op 12 Desember staan ek die kans om uiteindelik te wen.”

“Ek het nog ‘n lang pad voor my maar ek is vreeslik opgewonde.”

Inwoners kan solank vir Armand in die Meneer Suid-Afrika kompetisie steun deur ‘MRSA 008’ na 47439 te SMS. Elke SMS kos sowat R3.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button