Local newsNews

Telkom foon se oorverdowende stilte

Pensioentrekkers se opdreande stryd met Telkom.

Hoewel Telkom in hul advertensieveldtog hulself bemark as die heil van telekomunikasie in Suid-Afrika, deel die Van Rooyen egpaar nie hul sentiment nie.

Boet en Bettie van Rooyen se stryd het op 16 Desember laasjaar begin. Gelukkig was Bettie koelkop genoeg om elke liewe detail van die drama sorgvuldig in ‘n notaboekie neer te skryf. Aangesien hulle voorafbetaalde praattyd vir hulle landlyn koop, hou sy ook hiervan boek.

Normaalweg moet Bettie ‘n PIN-nommer gebruik voor sy kan skakel, maar op dié dag het sy onraad bemerk toe sy skielik kon skakel sonder om die nommer eers in te sleutel.

Verder het sy ook gemerk dat, in plaas van haar laaste genoteerde balans van R34,10, dit nou R7,47 was.

Sy het die probleem dadelik aangemeld en ‘n verwysingsnommer gekry.

In die proses het ‘n tegnikus bepaal dat die Van Rooyens en die buurvrou se lyne gekruis het, vandaar die verkeerde balans. Haar buurvrou het ook Bettie se oproepe ontvang en Bettie haar oproepe. Uiteindelik het die foon net glad nie meer gewerk nie.

Gedurende die volgende drie maande sou almal, van die bure tot mede-kerkgangers, poog om die Van Rooyens se probleem op te los.

Boet se beskrywing van sy frustrasies is geensins vleitaal nie. Iets soos om van keelvol te wees.

Tydens die volgende drie maande moes die Van Rooyens 15 duur oproepe maak, 19 sms’e stuur en drie verwysingsnommers ontvang (een wat ‘n buurvrou namens hulle aangemeld het). Hulle het ook by vyf geleenthede tegnici by hul huis gehad (sommige meer as een keer) en drie keer selfs uit desperaatheid die sentrale self besoek.

Die uiteinde van die saak? Die stilte is steeds oorverdowend in die Van Rooyens se huis.

Related Articles

Back to top button