NewsSchools

R100 000 ingesamel tydens Havies se Voetefees

"Dis ons suksesvolste fondsinsameling nog" – organiseerder.

Laerskool Dr Havinga sal binnekort al die pad bank toe lag na die skool se suksesvolste fees en fondsinsamelingsprojek.

Op Vrydag 28 Februarie het minstens 3 000 mense – minstens 1 300 van hulle Havie-leerlinge – die skool se jaarlikse kaskar- en speletjiefees bygewoon waartydens meer as R100 000 ingesamel is.

Die fees wat elke jaar onder ‘n ander naam aangebied word, is vanjaar die Voetefees genoem.

Die organiseerder van die fees die afgelope agt jaar, Lizelle Kies het bevestig dat Havies net oor die R100 000 ingesamel het.

“Dit is ons suksesvolste fondsinsameling nog. Hierdie geld sal dus gebruik word om skadunette oral op die skoolgronde op te sit, om hier en daar in die skool iets op te knap en skootrekenaars aan te koop vir al die klasse, wat die kinders kan gebruik om te leer en navorsing kan doen.

“Ons kan net vir die gemeenskap, ouers en familie dankie sê vir al hul ondersteuning, anders sou ons nie by die mikpunt van R100 000 kon uitkom nie.

“Ons hou elke jaar so ‘n fees om geld in te samel maar vanjaar s’n was verreweg die suksesvolste een nog.”

Sy voeg by dat ongeveer 900 Yankees, meer as 300 warmbrakke, 680 boereworsrolle en meer as 2 000 blikkies koeldrank dié dag verkoop is.

Die kosse en lekkernye wat te koop was, was onder andere spookasem, koeksisters, Yankees, hamburgers/hoenderburgers, warmbrakke, kerrie-en-rys, blikkies koeldrank, water, Energade, lekkers en verskillende snoepgoed.

Speletjies om van te kies was pot ‘n plakkie, waterkaskenades, bal in die gat, vang ‘n skoen, voete-fees-sak-kreatiewe stalletjie, tatoes en hare verf, slaan ‘n wrak, pot ‘n prefek, rocket, verfbalskiet, spin and win en gladiators.

Die gewildste speletjie was die rocket aangesien net oor die R8 000 hier ingesamel was.

Meeste van die speletjies sou jou tussen R5 en R15 uit die sak jaag terwyl die kosse en lekkernye jou tussen R10 en R15 sou kos.

Die fees het 12 uur afgeskop en net voor 5nm tot ‘n einde gekom.

Behalwe die lekker eet en genot was die hoogtepunt beslis die kaskarresies tussen die onnies.

“Verlede jaar het die blou span gewen, maar dit was nie die geval hierdie jaar nie aangesien die rooi span met die glorie weggestap het. Die wenklas sal binnekort aangekondig word aangesien al die admin nog nie heeltemal afgehandel is nie.”

‘n Vrou het ook met ‘n groot prys, dié van R1 000 se kruideniersware, weggestap wat deur Spar Witpoortjie geborg is.

IMG_9625 (Medium) IMG_9703 (Medium) IMG_9787 (Medium) IMG_9814 (Medium) IMG_9964 (Medium)

Related Articles

Back to top button