NewsSchools

EG Jansen gaps Florrie-sportster

"Selfs die afrigter wou hom oorreed om te bly, maar hy wou niks daarvan weet nie".

Florida — Hoërskool Florida is uit die veld geslaan nadat ‘n sportster skielik onder hul neuse uit na ‘n ander skool gelok is.

‘n Brief wat sy ouers aan die skool gestuur het, bevestig dat Franklin Wagner (o.16), ‘n talentvolle atleet en rugbyspeler sy skool- en sportloopbaan eerder in Boksburg by DR EG Jansen gaan voortsit.

Morné Hannekom, woordvoerder van Florries sê, “Ons is ‘n dag voor die Interhoër – wat in Germiston gehou is saam met 15 ander skole – hierdie ster kwyt.

“Ek en ander onderwysers het hom (Wagner) op die stoep raakgeloop en gevra waarheen hy op pad is. Hy reageer toe met: ‘Ek gaan EG Jansen toe’.

“Hy het in ‘n motor geklim en is daar weg.”

Hanekom sê verder, “Ons was in daardie stadium nie van sulke reëlings bewus nie, maar ‘n brief deur sy ouers bevestig wel dat hulle toestemming gegee het.

“Ons hoof het toe dadelik die hoof van DR EG Jansen geskakel om te hoor wat aan die gang is, en was verbaas om te hoor dat hulle hoof ook nie bewus was van ‘n Wagner wat by hul skool ingeskryf is nie.” Die Record het reeds twee keer probeer om kontak te maak met die hoof van EG Jansen en wag nog vir sy kommentaar.

Morné sê dat Florries wel vermoed dat die reëlings om die spoedvraat onder hul neuse uit te gaps, al ‘n rukkie aan die gang is.

“Ons koshuisvader het ons ingelig dat Franklin reeds die aand voor sy laaste dag by Florries sy tas gepak het. Die afrigter van die o.16-rugbyspan het selfs probeer om hom te oorreed om te bly, maar hy wou glo niks daarvan weet nie.”

Daar word gesê dat Wagner van George af is. Tydens die Interhuis het hy almal se asems weggeslaan met sy vinnige tyd van net oor die 10 sekondes in die 100 meter vir seuns o.16. Hy sou ook as vleuel vir die o.16A-rugbyspan uitdraf.

Wagner is die tweede sportster van Florries wat in ‘n kwessie van twee maande ander weivelde gaan soek het.

Die ander is die eersterugby- en skolespanspeler, Joseph Dweba. Hy was Florries se sportman van die jaar (2013) het hom al vroeg in Januarie by HTS Louis Botha in die Vrystaat aangesluit.

Vir talle is dit maar hoe dit werk terwyl baie ander nie daarmee saamstem dat skole se sportmanne deur ‘n ander skool gegaps word nie.

Sê hoe jy daaroor voel op ons webwerf www.roodepoortrecord.co.za.

Related Articles

Back to top button