School sportSport

Florries neem fiksword na ‘n nuwe vlak

"Ons wil leerlinge leer hoe om 'n gesonde leefstyl te handhaaf" — afrigter.

Met ‘n paar fris liggaamsbouers aan hul sy, kwaliteit toerusting tot hulle beskikking en die bekende Duitse metal-musiekgroep Rammstein wat hulle kliphard in die agtergrond aanspoor, is fiksword by Florries deesdae op ‘n heel ander vlak.

Hulle noem dit Crossfit, ‘n konsep wat deur Greg Glassman in die mid-90’s in die VSA ontwikkel is.

Met talle Crossfit-konsessies regoor die wêreld het twee plaaslike Springbok-liggaamsbouers, Jon Wallace en Beulah Strydom die inisiatief geneem om een net hier onder ons neuse by Hoërskool Florida te open.

Die Crossfit Hua is reeds sedert September 2013 by Florries aan die gang met die doel om Florrie-sportmanne te kondisioneer. Hoewel dit ook tot die publiek se beskikking is, meen Jon dat veral leerlinge hieruit gaan baatvind.

Volgens Jon is die doel van Crossfit om die skool met hul fiksheidsprogramme te help en die skool se sportspanne te verbeter.

“Ons wil die sportkinders beter en fiks kry. Kinders is te veel op die bank voor die televisie en op ‘n stoel agter die rekenaarskerm. Ons wil hulle leer hoe om ‘n gesonde leefstyl te handhaaf eerder as om in die strate te boer of by kattewaad betrokke te raak.”

Florries se rugbyspanne het reeds ‘n paar sessies in dié gimnasium agter die blad. Volgende aan die beurt is die netbaldogters, dan die hokkiespelers.

“Leerlinge wat Lewensoriëntering as vak neem, gaan ook binnekort by ons aansluit,” het Jon bygevoeg.

Gevra oor Crossfit se unieke konsep sê Jon, “Die konsep is eers gebruik om die spesiale gewapende magte fiks te kry.

Dit het so goed gewerk dat dit na die publiek, selfs skole versprei het.”

En moenie dink die oefeninge is jou gewone 10 minute opwarmingsessie van strek, gou water drink en iemand bel voordat jy op die trapmeul klim nie – nee, dis aftjop.

Jon verduidelik, “Oefeninge is beslis taai, maar dit gaan oor die basiese dinge wat mens in die lewe doen, net teen ‘n hoë en vinnige tempo. Die program verskil elke keer wanneer daar geoefen word, wat dit lekker maak. Die Crossfit-program is geskik vir enigiemand van vier tot 90 jaar oud.

“Die oefeninge teiken basies elke spier in jou liggaam sodat dit jou prestasie kan verbeter.

“Ons fokus op kardiovaskulêre en respiratoriese uithouvermoë, stamina, krag/sterkte, buigsaamheid, spoed, koördinasie, ratsheid, balans en akkuraatheid.”

Die leerlinge asook die publiek word deur ‘n span van ses Crossfit vlak een-afrigters gedril – almal van hulle het al ‘n groot naam vir hulleself in óf die liggaamsbou- óf fiksheidswêreld gemaak. Hulle is Sonja Kilbourn, Johan Kamper, JP Steenkamp, Hennie Beukes, Beulah Strydom en Jon Wallace.

Vir meer oor Crossfit, besoek hul webwerf by www.crossfithua.com.

• Navrae: Jon Wallace of Beulah Strydom by 082 334 2875.

 

Die rugbymanne swoeg en sweet tydens hul oefensessie by Crossfit.
Die rugbymanne swoeg en sweet tydens hul oefensessie by Crossfit.
Florrie-rugbymanne nadat hulle deur die afrigters gedril is.
Florrie-rugbymanne nadat hulle deur die afrigters gedril is.
'n Florrie besig met 'n battle rope-oefening.
‘n Florrie besig met ‘n battle rope-oefening.
Nog 'n Florrie in aksie tydens Saterdag se oefensessie by Crossfit.
Nog ‘n Florrie in aksie tydens Saterdag se oefensessie by Crossfit.
Elke persoon moes minstens 30 battle ropes-oefeninge voltooi.
Elke persoon moes minstens 30 battle ropes-oefeninge voltooi.
Die duckwalk was beslis nie maklik nie.
Die duckwalk was beslis nie maklik nie.

Related Articles

Back to top button