NewsSchoolsUpdate

Roodies sorg vir toekomstige vakmanne

Uitgebreide tegniese afdeling van skool amptelik aan die gang.

Die tekort aan motorwerktuigkundiges, swysers en ketelmakers is slegs ‘n paar van die leemtes in die mark wat Hoërskool Roodepoort in die toekoms gaan help vul nadat die skool se nuwe tegniese afdeling amptelik op Donderdag 6 Februarie in gebruik geneem is.

Verteenwoordigers van die Gauteng Departement van Onderwys, betrokke maatskappye, ouers, onnies, die skoolhoof en selfs besigheidsmanne het opgedaag om dié nuwe hoofstuk in Roodies se geskiedenis mee te maak.

Roodies se opgeknapte en uitgebreide tegniese afdeling sluit in ‘n byna hele nuwe gebou, meer moderne toerusting, inligting, gereedskap en ‘n onnie in Piet Crous om leerlinge wat in tegniese vaardighede belangstel, onder sy vlerk te neem.

“Ons as ‘n distrik is omtrent opgewonde oor dit wat Hoërskool Roodepoort reggekry het en vir leerlinge kan bied. Ons waardeer dit geweldig baie dat daar mense in ons distrik is wat ‘n verskil in leerlinge se lewens wil maak. Hierdie afdeling en vakkeuse wat julle aanbied sal leerlinge wat nie ‘n prokureur of dokter wil word nie, ander beroepskeuses gee,” sê Dennis Macuacua, die Departement van Onderwys se D12 Direkteur.

Die skoolhoof, Munnick van der Merwe verduidelik so, “Dit het byna twee jaar geneem om die tegniese afdeling uit te brei en te voltooi. Dit is alles te danke aan Imperial Automotive en ander besighede wat glo in wat ons wil doen.

“Wanneer ‘n leerling matriek slaag, sal hy nie net sy matrieksertifkaat ontvang nie, maar ook ‘n NTS 3 (Nasionale Tegniese Sertifikaat). Hy is basies werk gewaarborg, of hy kan besluit om verder opgelei te word en sy NTS 4-, 5- en 6-vlak sertifikaat te gaan voltooi. Daarna kan ‘n ou selfs ‘n ingenieur word.”

Sean Fenn, algemene bestuurder van die Imperial-opleidingsafdeling, sê die werkloosheidprobleem in Suid-Afrika het niks te doen met ras nie, dis eerder ‘n kwessies van vaardighede. Hy het ook ‘n paar moontlike faktore genoem hoekom daar nie werk in die bedryf is nie.

“Die kurrikulum is te oud wanneer leerlinge opgelei en geleer word. Daar is sekere gereedskap wat 20 jaar terug gebruik is en steeds goed werk, maar daar is beter. Vir leerlinge om ‘n naam te maak in die bedryf is wiskunde en wetenskap ‘n moet want iemand wat aan motors wil werk moet slim wees.”

Sean voeg by dat die leerlinge wat pas gematrikuleer het, ‘n goeie kans staan om werk te kry as hul drie dinge het –vaardighede, kennis en kwalifikasies.

“Om die een of ander rede sukkel ons (Imperial) om mense wat in dié rigting belangstel hierdie kant van Johannesburg te kry. Ons mikpunt as ‘n maatskappy is om uiteindelik vir leerlinge ‘n doel in die lewe te gee en werksgeleenthede te bied.”

Pieter du Plessis, beheerliggaamvoorsitter van Roodies het belemtoon dat al is daar mense wat motorwerktuigkundiges ‘grease monkeys’ noem, moet leerlinge dit net aflag, “want mens moet jou storie ken om aan ‘n BMW se enjin te werk”. Hy sê ook dat mense nie besef hoe baie motoriste op motorwerktuigkundiges moet staatmaak nie.

Related Articles

Back to top button