Latest SportSportUpdate

Davidsonville se teenvoeter vir dwelms is sport

"Sport die enigste pad wat kinders sal loop" – RSDF.

Daar is ‘n goeie manier om die jeug van verkeerde dinge f weg te hou en dit is deur sport.

Vir die gemeenskap van Davidsonville is dwelms en die misbruik van alkohol ‘n sensitiewe onderwerp, maar soms moet ‘n probleem eerlik en openlik geïdentifiseer word, en moet ‘n plan beraam word om dit te beveg.

Na die amptelike opedag van die Roodepoort Sportontwikkelingstigting (Roodepoort Sports Development Foundation – RSDF) op Saterdag 1 Februarie glo ouers en onderwysers dat sport die oplossing, teenvoeter, plan en antwoord is.

“Ons is besig om die Verenigde State van Amerika (VSA) – waar dwelms jare terug hand uitgeruk het – na Suid-Afrika toe te bring. As ons niks doen nie is dit oor 10 jaar klaarpraat met ons,” het Cavin Johnson, die huidige afrigter van Supersport United tydens sy toespraak gesê.

Hy het ook wyle oudpresident Nelson Mandela aangehaal deur te sê, “Education is power” en dat sport sowel as onderwys hand aan hand moet gaan as die gemeenskapo dwelms enigsins wil beveg, en die jeug eendag hulle plek in die samelewing wil volstaan.

RSDF se voorsitter, Theo van Rensburg, het tydens sy toespraak skokkende statistieke oor dwelms onthul. Volgens Theo is tussen 60 en 70 persent van die jeug by dwelms betrokke.

“Hierdie is ‘n ernstige probleem. Daar is meer kinders op Sondae by ‘n onwettige straatren as wat ‘n sokkerwedstryd op Saterdae bywoon.

“Ons as die RSDF, ouers en onderwysers van die gemeenskap moet saamstaan teen die probleem. Dit is hoekom ons bestaan, om ons kinders ‘n kans te gee om iets te word, om ons volgende ster netbal-, rugby-, krieket- of golf- en sokkerspelers se talente te ontwikkel sodat hulle nie die pad tronk toe loop nie. Sport sal die enigste pad wees wat ons kinders in die toekoms sal loop en vandag verklaar ek die opedag en organisasie amptelik oop.”

Die opedag het omstreeks 10vm afgeskop met ‘n openingsgebed deur pastoor Headley Campbell gevolg deur verskeie toesprake deur verteenwoordigers van organisasies soos die gemeenskap se eie naskoolsentrum, die bekende Premier Sokkerliga-afrigter Cavin, die RSDF se voorsitter asook hul mediawoordvoerder, Aubrey Thomas. Die Gauteng Krieketraad het ook die dag bygewoon en reeds aangedui dat hulle Roodepoort Primêr sal nader. Daar was ook ‘n klompie aktiwiteite wat almal kon geniet.

Die groot doel van die opedag was natuurlik om kinders aan ander sportsoorte as net sokker bloot te stel, soos hokkie, netbal, swem, golf, hengel, tennis, basketbal en rugby. Die groot gunsteling was die sewes-sokkertoernooi.

Die RSDF het ook die geleentheid gebruik om toekennings te oorhandig aan John Henry Mackonie en Peter Evans wat albei ‘n groot bydrae en verskil in die gemeenskap gemaak het; Peter omdat hy veral sokker, en John (83) omdat hy onderwys vir langer as 47 jaar in die gemeenskap bevorder het. John was ook al ‘n raadslid vir Davidsonville, en is die enigste lewende raadslid van 15 in die gemeenskap oor. Hy bly ook al vir langer 60 jaar in Davidsonville en staan as die pa van die gemeenskap bekend.

“God het my hiernatoe gestuur om ‘n verskil te maak, en ek glo ek het. Die RSDF is die beste ding wat nog met ons kon gebeur en dit sal ‘n sukses wees,” het John aan die Record gesê.

Die Naledi People Centre asook Paul McCartney en Quinton Coulter van die City of Joburg, het ook hande gevat met die RSDF.

• Navrae: Skakel 076 163 3275 of e-pos die RSDF by rdevelopmentbody@gmail.com.

 

Kinders bid saam tydens die Roodepoort Sportontwikkelingstigting se opedag op 1 Februarie.
Kinders bid saam tydens die Roodepoort Sportontwikkelingstigting se opedag op 1 Februarie.
'n Seun spog met sy talent tydens die opedag.
‘n Seun spog met sy talent tydens die opedag.
Dogters speel netbal tydens die opedag van die RSDF.
Dogters speel netbal tydens die opedag van die RSDF.
Kinders speel in die 'Kiddies Corner' tydens die opedag.
Kinders speel in die ‘Kiddies Corner’ tydens die opedag.
'n Seuntjie geniet homself op die glyplank.
‘n Seuntjie geniet homself op die glyplank.
Supersport United se afrigter, Cavin Johnson.
Supersport United se afrigter, Cavin Johnson.
'n Klomp seuns word geleer hoe om gholf te speel.
‘n Klomp seuns word geleer hoe om gholf te speel.
RSDF-voorsitter, Theo van Rensburg.
RSDF-voorsitter, Theo van Rensburg.
'n RSDF-lid saam met die pa van die gemeenskap, John Henry Mackonie.
‘n RSDF-lid saam met die pa van die gemeenskap, John Henry Mackonie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button