Local newsNewsUpdate

Beskuldigde in skietery se pa gee ander weergawe

"Dit was selfverdediging," sê pa.

Frikkie Rall, die pa van die beskuldigde in die skietvoorval by Elephant and Friends, Boet Rall (24), het die Record genader om hulle weergave van die insident te gee.

Rall snr is die eienaar van Idols-nagklub in Witpoortjie.

Rall jnr kon ongelukkig weens ander verpligtinge nie self teenwoordig wees nie.

Volgens Rall snr ken hy die eienaars van Elephant and Friends reeds jare lank en het hulle selfs voorspoed toegewens toe hulle hul onderneming begin het. Daarom het hy herhaalde kere gedurende die gesprek benadruk dat hy nie by ‘n “moddergooiery” betrokke wil raak nie.

“Ek voel dit is jammer dat die eienaars nou insinuasies van jaloesie en uitsmyterondernemings maak. Daar is geen jaloesie van ons kant nie. Ek voel nie die twee kuierplekke maak inbreuk op mekaar se besighede nie en boonop het ons demografies verskillende klante,” verduidelik Rall snr.

“Verder is dit tog voor die hand liggend dat as ons skade aan hulle besigheid wou doen, ons dit lankal kon doen.”
Hy vertel dan wat die betrokke aand na bewering gebeur het.

“My seun en drie vriende het daar gestop om ‘n drankie te drink. Hulle was skaars vyf minute daar toe hy een van my vriende raakloop. Hy behandel die man nog altyd met respek en noem hom selfs ‘oom’.

“Aanvanklik was hulle gesprek lighartig maar toe het die ‘vriend’ bewerings oor my teenoor my seun gemaak waarop my seun hom gekonfronteer het, maar steeds op ‘n ordentlike manier. My seun het toe van sy tafel wegbeweeg en weer na die kroeg gegaan om sodoende liewer ‘n onderonsie te vermy, maar die man is agterna en het aangehou om my seun uit te lok. Die man se vriendin het toe ook begin aanmerkings maak en hom gevloek, en my seun het haar op haar plek gesit. Daarvan het die man nie gehou nie,” vertel hy.

“Boet is toe badkamer toe en toe hy terugkom het die ander man aangehou. Weer het my seun weggestap en my toe probeer skakel maar hy kon my nie in die hande kry nie.

“Hierna is hy buite toe want hy wou regtig nie met die man, wat veel groter as hy is en ‘n reputasie as ‘n tawwe karakter het, in ‘n bakleiery betrokke raak nie.

“Weer is die man agterna. Dit is toe dat Boet sy foon na hom uitgehou het en vir hom gesê het dat hy self met my moet praat, maar die man het onverwags losgetrek en hom begin slaan. Een van my seun se vriende wou hom help maar lede van ‘n motorfietsklub het hom vasgehou. Boet het gesien dat tussen sy aggressor en die motorfietsklub se lede hy oorweldig was en het ‘n waarskuwingskoot afgetrek en die man gewaarsku dat hy sal skiet as hulle hom probeer aanval.

“Die bewering dat die man na hom toe gestap het met sy arms oop en glo gesê het ‘los dit net’ is ook nie waar nie. Hy het vir Boet uitgetart en vir hom gesê dat hy untouchable is en dat Boet hom moet skiet want hy glo nie Boet het die moed om dit te doen nie. Boet het hom weer gewaarsku en toe hy nader kom het Boet uit vrees geskiet.”

Rall snr vertel ook dat die gewonde man na die tyd teenoor hom om verskoning gevra het en erken het dat hy verkeerd opgetree het. Verder het die man ook geweier om ‘n saak teen Rall jnr te maak.

Rall jnr het wel Maandag 3 Februarie op ‘n aanklag van poging tot moord in die hof verskyn en Rall snr sê die reg moet nou sy loop neem. Hy is egter positief dat die getuienis daarop sal dui dat dit selfverdediging was.

“Wat Elephant betref, hulle het nooit bekend gemaak dat die man wat gewond is en skoorgesoek het ‘n familielid is nie. Verder dink ek hulle moet selfondersoek doen as dit kom by al die insidente die afgelope paar maande. Ek weet hulle is goeie besigheidsmense maar hulle blyk nie die ondervinding te hê om hulle klante te beheer nie. Verder lyk dit ook of hulle klante, soos die motorfietsklubs wat daar uithang, hulle voorsê. Ek dink mense wat daar kom sien daar is geen reëls of sekuriteitspersoneel wat reëls toepas nie en dink dan hulle kan maak wat hulle wil. Ek vermoed ook dat hulle mooi moet kyk of daar nie dalk dwelmbedrywighede is nie. Die grootste probleem bly egter hulle onvermoë om hulle klante te beheer en hulle tekort aan sekuriteit. Ek dink nie hulle moet ander klubs en mense vir hulle probleme blameer nie,” sluit Rall snr af.

 

Man by gewilde kuierplek geskiet — 3 Februarie

Die kroeg en restaurant Elephant and Friends is die soveelste keer in omstredenheid gehul na ‘n skietvoorval op 31 Januarie.

Volgens kringtelevisiemateriaal wat die eienaars vir die Record gewys het, het ‘n woordewisseling wat in die kuierplek tussen twee jong mans ontstaan het, omstreeks middernag na buite die gebou verskuif.

Een van die mans wat blykbaar deur ‘n groep geviktimiseer is, het skielik die ander dreigende jong man met die vuiste toegetakel en in ‘n stoeiery ontaard. Net buite die sig van die kamera is eers een skoot in die lug afgetrek waarna omstanders laat spaander het.

Daar kan dan gesien word hoe die man wat eerste sy vuiste gebruik het met oop arms die skieter nader en na bewering aan hom sê “los dit, los dit”. Die tweede jong man rig dan skielik die vuurwapen op hom en skiet hom in sy been. (Die wond was glo gelukkig net ‘n skramse vleiswond.)

Daar kan ook op die videomateriaal gesien word hoe die skieter dan om ‘n geparkeerde motor loop en sy vuurwapen skelm aan ‘n ander vriend oorhandig. Die skieter is na bewering 24 jaar oud.

Volgens die videomateriaal en bronne waarmee die Record gepraat het dui dit daarop dat die aanval vooraf beplan is.

Die jong man wat die skote afgevuur het is glo ook die seun van die eienaar van ‘n ander nagklub aan die Wes-Rand en daar is sprake van jaloesie oor die sukses van Elephant and Friends.

Verder is daar ook bewerings oor twee kompeterende uitsmyterondernemings tussen wie die spanning so hoog loop dat dit by onskuldige kuierplekke tot geweld uitloop.

Die eienaars van Elephant and Friends, Juan en Magel Venter sê hulle sit met hulle hande in hulle hare en glo nie meer dat al die voorvalle by hulle onderneming toevallig is nie.

“Dit is duidelik op die kringtelevisiemateriaal dat al die besoekers heerlik rustig kuier. Die groep jong mans is slegs ‘n klein rukkie in die klub voor die voorval plaasvind. Hulle het gekom met die doel om hulle slagoffer kwaad aan te doen, wat terloops die heel aand rustig saam sy vriendin en ander vriende gekuier het. Daarvan het ons bewyse,” sê Venter.

“Ons werk hard daaraan om ons plek ‘n spog kuierplek te maak. Ons ken al ons gereelde klante en daar is nooit moeilikheid nie. Dit is asof elemente van buite gestuur word om moeilikheid te kom maak en ons reputasie skade aan te doen.

“Ons gaan nou nog ernstiger stappe moet neem om ongewenste elemente uit te hou maar ons is vasbeslote om een van die top sportkroeë en -restaurante aan die Wes-Rand te wees,” vertel ‘n moedelose Venter.

“Ons gereelde klante is uiters ongelukkig oor al die insidente en negatiewe publisiteit want hulle weet Elephant and Friends is nie die plek waarvoor hierdie skobbejakke ons nou probeer uitkryt nie,” voeg sy vrou Magel by.

Die voorval word tans deur die SAPD ondersoek.

Die name van al die betrokkenes is aan die Record bekend.

Related Articles

Back to top button