NewsSchools

Florries kry eerste van Solidariteit se onderwysassistente

Helpende Hand befonds eerste onderwysassistent by Laerskool Florida.

Solidariteit Helpende Hand se Projek Leerkrag het onlangs momentum gekry toe die eerste 50 onderwysstudente wat by dié projek se onderwysassistentprogram gaan baat vind, aangekondig is.

Een van hulle is Melissa Strydom, wat as onderwysassistent by Laerskool Florida ingespan is.

“Die studente word deur Helpende Hand gesubsidieer. Daar gaan by 23 skole regoor die land onderwysassistente geplaas word om die druk op oorlaaide onderwysers te verlig en terselfdertyd waardevolle indiensopleiding te ontvang.

“Met Projek Leerkrag tree Helpende Hand daadwerklik op en bied enersyds ‘n oplossing vir oorvol klaskamers en oorwerkte onderwysers, en andersyds ontvang die onderwysstudente indiensopleiding,” sê Juanita du Preez van Solidariteit Helpende Hand.

“Ons is baie opgewonde om hierdie eerste 50 onderwysassistente in skole te plaas,” sê Riaan du Plooy, adjunk uitvoerende hoof: onderwys en opleiding van Helpende Hand.

“Dit is die eerste stap in ’n groot droom wat nou verwesenlik word. Hiervandaan gaan die projek net groter word”.

Meer oor Melissa:

Sy is op die ouderdom van 21 tans besig met die eerste jaar van haar onderwysgraad. Sy geniet die geleentheid om as onderwysassistent by die skool te dien vanweë haar voorliefde om met kinders te werk en hulle te help bou aan ‘n toekoms.

Haar gunsteling deel van onderwys is die uitdagings wat dit aan haar stel. “Om elke dag nuwe uitdagings te hê,” sê Melissa, “om te kan sien hoe elke kind uniek is en ook daagliks groei is vir my belangrik.”

As ‘n mens verby die hede kyk, sluit haar onderwysdrome in om eendag self te kan klasgee en haar eie klaskamer te hê. Dis nie al nie.

“Ek wil eendag ‘n groot verskil maak in die gemeenskap en die skool waar ek betrokke is,” sê sy.

Laerskool Florida het die geleentheid om in Projek Leerkrag te kan deel, met albei hande aangegryp en die skool is opreg dankbaar dat hulle deel van die projek kan wees en ‘n bydrae tot Melissa se vooruitsigte vir die toekoms kan lewer.

Sit die krag terug in leerkrag. SMS die woord “onnie” en jou skool se naam vandag nog na 34388. Elke SMS kos R2.

Related Articles

Back to top button