NewsSchoolsUpdate

“Veels geluk en totsiens hoof”: Roodekrans

Roodies gaan groot om hoof te groet.

Laerskool Roodekrans het saam met hul geliefde skoolhoof, Jan Meyer vir ‘n laaste keer kerse op ‘n verjaarsdagkoek uitgeblaas.

Dit nadat Jan sy 65ste verjaarsdag op Woensdag 6 November gevier het waar die skool terselfdertyd hom ook behoorlik wou groet nadat hy onlangs sy aftrede na 33 jaar aangekondig het.

Marike Cronje van die skool het aan die Record gesê, “Dit was mnr Meyer se laaste verjaarsdag saam met ons en ons wou groot gaan.

“Die hele skool het vir hom op erewag gestaan waar kinders gedeel het wat hy vir hulle beteken het. Hulle het ook ‘n spesiale lied vir hom gesing.”

Tans word daar ook aan ‘n herdenkingsmuur met afdrukke van die hele skool se hande gewerk.

Marike verduidelik, “Die tema is ‘Hierdie hande gaan die toekoms verander’. Die muur wat geverf is, is die leiers van 2013 se geskenk aan hom. Die juniors (Graad R tot 3) word verteenwoordig deur die drie skakerings groen gras en die seniors (Graad 4 tot 6) deur die drie skakerings blou lug. Daar is vyf Graad 7-klasse en elke klas word deur ‘n proteaboom verteenwoordig. Die seuns is die donkergroen blare en die dogters die grysgroen blare.

“Die leiers is die helder pienk/oranje proteas aan die bome. Die proteabome en blomme is deel van ons skoollied en skoolwapen.

“Die onderwysers en ander personeel by die skool is die oranje, rooi en geel hande in die son. Die son se strale strek deur die hele prent. Juffrou Dolla Venter het ook ‘n spesiale plekkie langs die son op die Roodies ‘Wall of Fame’ aangesien sy na 17 jaar aftree.

“Mnr Meyer se hande is die wit duif langs die son, met ‘Mnr. J Meyer, Hoof 1985-2013’ daarby.

“Aan die bokant van die prent is die bewoording: Hierdie hande gaan nog die wereld verander.”

 

Die skool het op erewag gestaan met die hoof se aankoms.
Die skool het op erewag gestaan met die hoof se aankoms.
Die herdenkingsmuur spesiaal vir Jan Meyer.
Die herdenkingsmuur spesiaal vir Jan Meyer.
Jan ontvang 'n ballon van 'n leerling.
Jan ontvang ‘n ballon van ‘n leerling.
Laerskool Roodekrans se skoolhoof, Jan Meyer saam met leerlinge tydens sy verjaarsdagvieringe.
Laerskool Roodekrans se skoolhoof, Jan Meyer saam met leerlinge tydens sy verjaarsdagvieringe.

Related Articles

Back to top button